Die Hoërskool Despatch het onlangs afskeid geneem van die bekende egpaar Kosie en Adamina Smit, wat die onderwys vaarwel toeroep.
Die Smit egpaar laat sonder twyfel diep spore by HSD agter.
Adamina het haar passie vir haar taal, deur Afrikaans te onderrig, uitgeleef en het vir 37 jaar diep spore getrap in dié taaldepartement. Sy was deel van die ATKV-Steenbokkies, die nuwe biblioteek, en die mooiste matriekafskeide wat suksesvol onder haar hande gekom het, en nog vele meer.
Sy is wel bekend onder die leerders vir haar dekadente karamel munchies, waarvan sy die inkomste van die verkope teruggeploeg het in die skool.
Kosie is al vir 41 jaar ’n onderwyser waarvan hy 39 jaar deel was van die Draak-familie. Hy het met passie Fisiese Wetenskappe onderrig en aan die stuur gestaan van verskeie suksesvolle fondsinsamelingsprojekte.
Hy het ook die skool se Groenklub gestig, en saam met die skietspan die land vol gereis en die laaste drie jaar was hy aan die stuur van sake by HSD.
Die skoolgemeenskap wens hulle ’n welverdiende aftrede toe vol reis, geluk en seën.





