Eugene ‘Tiekie’ Transell.

Foto: Verskaf

Die trotse Transell-tradisie leef steeds voort op Kariega.

Eugene (48), seun van die oud-OP-skrumskakel Tiekie Transell, is nou die familie se fakkeldraer. Hy sê weens sy pa se bekendheid word hy ook Tiekie genoem.

By behaal tans groot sukses as afrigter van die Laerskool Innes se o.13-span, terwyl hy ook welslae behaal by die Hoërskool Brandwag se o.14 B-span.

Eugene, wat op sy dag self ’n bedrewe skrumskakel was, sê hy geniet dit ongelooflik baie om die jong spelers touwys te maak.

“Dis verskriklik lekker. Rugby is mos maar in ons bloed. Dis my lewe. Ek kan omtrent nooit wag om by die veld uit te kom nie. Elke dag is ’n ander ervaring en belewenis.

“Om die jong spelers te sien ontwikkel is uiters bevredigend. Dit maak weer die adrenalien in my wakker,” sê hy.

Die Transells het oor die jare sinoniem geword met OP-sport.

Oupa Vicky was ’n uithaler-losskakel vir OP, terwyl Tiekie een van die ongelukkigste spelers was wat nooit ’n Springbok geword het nie. Hy was een van die land se beste skrumskakels van sy era.

Eugene se ooms, wyle Dennis, Vicky en Avril het almal die OP op die bofbalveld verteenwoordig. Avril was uiters ongelukkig om in 1989 nie die Springbok-bofbalspan na Taiwan te haal nie.

Sy neef, Nantie Hayward, was ’n skitterende Protea-snelbouler wat die wêreld se beste kolwers met sy kartetse laat bontstaan het.

Die sportbloed loop dus dik in die familie.

Eugene se seun, Ethan, het vir die OP se o.12-span haker gespeel, maar is later flank toe verskuif.

Innes se o.13-span het vanjaar 11 wedstryde gespeel. Vyf wedstryde is gewen en vyf verloor, terwyl een gelykop geëindig het. Innes se oorwinnings was teen La Trobe, Winterberg, Bonzai, Kirkwood en Gamtoosvallei, terwyl hulle teen Frans Conradie, Kirkwood, Muir College, Albertyn en Susannah Fourie vasgeval het. Die wedstryd teen Sonop het gelykop geëindig.

Bathu Adams (vaskopstut) en die veelsydige Jayden Gardner (skrumskakel, losskakel of binnesenter) het vanjaar die o.13-streekspan gehaal. Gardner was ook die span se kaptein en voorste puntemaker.

Hy het agt drieë gedruk en ook 20 punte met die skoen aangeteken.

Drie ander spelers het vanjaar die OP se o.12-span verteenwoordig. Hulle is Jack Toring (voorry), Lu-Aiden Kriel (skrumskakel/losskakel) en Johandré Visagie (flank).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article