Groot vorderinge is al gemaak om vir o.10-bofbalspelertjies liefde te kweek vir die sport.
“Dit gaan met groot geesdrif, aanmoediging en baie liefde gepaard,” sê Terrence Gouws van Kariega, wat die hoofafrigter van die Nelson Mandelabaai streek se o.10-liga is.
Die eindstryd van die o.10 All Stars-uitdaagreeks is die naweek op die Londtpark-veld in die Baai beslis.
“Ons probeer dit baie professioneel aanbied om die spelers belangrik te laat voel.
“Ons getalle groei ook merkwaardig.
“Ons het met net 15 spelers begin en staan vandag reeds op meer as 50 geesdriftige kannetjies,” sê hy.
Gouws sê die doelwit is om die jonges maksimum geleenthede te gee om hul karakter te bou, lewenslesse te leer, om die sport ten volle te geniet, maar ook om respek vir ander te ontwikkel.
“Hierdie reeks lê die grondslag vir toekomstige ontwikkeling en dis vir elke speler ’n groot eer om in die eindstryd te kon speel.
“Voor die eindstryd moes die twee spanne op die gras sit terwyl hulle aan bekende sportpersoonlikhede voorgestel is.
“Daarna het die spelers na die veld gestap terwyl We are the champions oor die luidspreker gespeel is.
“Die atmosfeer was absoluut elektries toe die eerste bal gegooi is,” sê Gouws.
Hy sê enige jongelinge wat graag voortaan deel van die bofbalgroep wil word kan hom op 082 875 7180 skakel.
Gouws sê die All Stars-reeks vorm die grondslag van spelers wat later gevestigde senior OP-spelers kan word.





