DIE Bergsig Skool op Kariega het die dienste van die bekende sanger Ricus Nel bekom vir hul fondsinsamelingsprojek.

Dié konsert, wat reeds groot belangstelling lok, word op 14 Maart in die Ernest Swanepoel-saal op Despatch gehou.

Net ’n paar van die 75 tafels is nog beskikbaar vir bespreking.

Die verrigtinge begin om 19:00 en kos R250 per persoon. Dit sluit verversings in. ’n Kontantkroeg sal ook beskikbaar wees.

Fondse gaan gebruik word om skooluniform te verskaf aan leerders wat dit nie kan bekostig nie, om VCSV uit te brei by die skool en vir ’n nuwe skoolbus.

Gertjie de Jager sal as seremoniemeester optree. Hy is iemand wat weet hoe om die lagspiere te prikkel.

Kaartjies kan by Klinicare Despatch gekoop word, of by Inge op 084 233 3033 of Marco op 083 396 1288.

Voorsiening word ook gemaak om na die kinders om te sien wanneer die ouers die aand geniet. Die Wikkel en Giggel-groep het hul dienste aangebied en daar sal vanaf 18:00 in die stoeisaal langsaan na hulle omgesien word. Dit is vanaf die ouderdom 2 jaar en ouer. Die prys per kleuter is R60.

Dit sluit springmielies in vir die fliek wat hulle sal geniet.

’n Snoepie sal ook beskikbaar wees. Ouers wat hul kinders vir die aand wil inbespreek kan Sue bel op 071 419 4467.

Intussen sê die skool gróót planne word vir 2026 beraam.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article