DIE Oos-Kaap se stoeikampioene van die toekoms gee op 22 Februarie op Despatch die eerste tree om hul drome te verwesenlik.
Dít is wanneer ’n kabouter-dag vir stoeiers op tot 10 jaar in die Despatch-stadsaal gehou word.
“Ons begin reeds om 09:00 en verwag ’n hele paar stoeiertjies – ook van ander klubs. Dáár wil ons die kabouters die geleentheid gee om ons mooi sport te beoefen. Terselfdertyd gee dit ons ook die kans om aan die ouers te wys wat amateur-stoei behels,” sê Danie Els, oud-SA stoeier van die Despatch-klub.
Hy sê die kabouter-toernooie het sy bestaansjaar in die tagtigerjare by die Welkom-stoeiklub in die Noord-Vrystaat gehad.
“Ons as stoeiklub het elke jaar ons klein stoeiers soontoe gevat om hulle van groot toernooie bewus te maak.
“Despatch se kabouterdag verlede jaar was ’n groot sukses en ek weet dit gaan dié keer nog meer gewild wees.
“Ek sien daagliks dat die kleintjies reeds opgewonde is oor dit wat op hulle wag. Dié toernooie is elke jaar vir die kleintjies die hoogtepunt van hul stoeijaar en dit maak ons as beamptes opgewonde oor die toekoms. Ons wil ook hê dat skole hul seuns en dogters sal aanmoedig om saam te kom stoei.
“Stoei is ’n goeie sport en bou goeie karakter. Ek glo nog al die jare sport is ’n uiters belangrike lewensonderrig in ’n kind se lewe,” sê Els.




