Projek 3000+ het 6,681 maaltye uitgedeel. Foto: Verskaf
Projek 3000+ het 6,681 maaltye uitgedeel. Foto: Verskaf

KARIEGA – Die Pay It Forward Community Foundation (PIFCF) het gedurende Desember Projek 3000+ geloods – ‘n projek wat gebore is uit die verwoestende impak wat die sluiting van Goodyear op die gemeenskap gelaat het.

Met die doel om 3,000 mense te bereik, het die organisasie hard gewerk om donasies te bekom, en danksy die vrygewigheid van die gemeenskap en boere kon dié hartprojek ‘n totaal van 6,681 maaltye aan behoeftige individue en gesinne versprei in die areas van Kariega en Despatch, soos Reservoir Hills, Daleview, Lapland, Rosedale, KwaNobuhle, asook Missionvale in Gqeberha.

“Ons het aanvanklik begin met ‘n doelwit van 3,000 maar ek het in die begin ‘n plus agteraan gesit want ek het geweet as hierdie gemeenskap hande vat gebeur daar altyd groot en mooi dinge en ek het net geweet dit gaan ontplof in iets mooi,” het Sonja du Preez, visionêr van die PIFCF, gesê.

“Om die dankbaarheid in die mense se oë te sien, die trane van verligting en die opregte waardering vir elke kospakkie. Ons het besef hoe groot is die nood.”

Lizé Saunders, Cynthia Mapapu (vrywilliger in KwaNobuhle) en Sonja du Preez
Van links is Lizé Saunders, Cynthia Mapapu (vrywilliger in KwaNobuhle) en Sonja du Preez. Hulle staan slaggereed om kospakkies uit te deel vir Projek 3000+. Foto: Verskaf

Die inisiatief was baie meer as net om kospakkies uit te deel; dit het weer hoop gegee aan gemeenskappe.

Die getuienis van ‘n pa wat met sy dogter deel dat daar geen kos vir Kersfees gaan wees nie, en dan voorsien die projek ‘n voedselpakkie genoeg vir 18 maaltye, getuig van die projek se impak.

“Elke pakkie wat ons uitgedeel het, het ‘n storie van swaarky, maar ook van hoop en geloof gedra. Projek 3000+ was vir my nie net die kos uitgee nie, dit was liefde in aksie gewees. Ons kan nie net sê ons is lief vir mense nie, ons kan nie net sê die Here is lief vir hulle nie, ons moet vir hulle wys dat Hy leef en bestaan,” het Du Preez verder gedeel.

Lizé Saunders, medestigterslid van die organisasie, het met blye oorgawe haar ervaring van die projek gedeel: “Dit was ‘n ongelooflike ervaring. Die oomblik wanneer jy self moet inspring en iets doen gee dit vir jou ander waarde, dit gee vir jou ‘n ander siening. Jy weet om in die son te staan vir ure fisies kool uit ‘n land uit te moet dra, skoon te maak, op ‘n bakkie te laai en weer af te laai, gee jy fisies jouself maar die wete dat daar mense gaan wees wat vanaand gaan sit met ‘n bord kos voor hulle en vir die Here dankie sê. Dit was die mees bevredigende gevoel.”

“Ons wil aanhou gee, al is dit nie altyd moontlik nie, maar om vir daai oomblik ‘n verskil in iemand se lewe te maak is prysloos. Die hoogtepunt is natuurlik die wete en die begeerte dat hulle sal sê: ‘Here die eer kom U toe’. Dat hulle vir die Here sal sê: ‘Dankie, U sien my raak,” het Saunders beklemtoon.

Die projek dien as ‘n getuienis dat wanneer ‘n gemeenskap hande vat en mekaar dien, dit ‘n groot impak maak.

Dit was meer as kos uitdeel; dit was ‘n projek wat geloof versterk het, hoop gegee het en liefde bewys het aan gemeenskappe wat deur armoede geraak word.

Die organisasie wil graag die volgende besighede en individue bedank vir hul bydraes: Klinicare Despatch, Foton Port Elizabeth, Woga Security, Kenneth Botha, en Delmari Muller.

Vir meer inligting of om betrokke te raak by PIFCF, kontak Sonja du Preez by 064 537 4228 of besoek www.pifcf.co.za.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article