DESPATCH – Die gebrek aan skoolfondsbetaling noop verskeie gemeenskappe in die Oos-Kaap om hande te vat in ‘n poging om skole te help.
Op Despatch het ‘n innoverende predikant ‘n interessante Papierprojek van stapel gestuur.
Dominee Jaco Barnard van die NG Eendrag (Glaskerk), staan aan die spits van die Papier vir Kersfees-projek.

“Ons wil die skole se arms versterk deur praktiese hulp te verskaf. Twee skole in ons gemeente het genoem dat hulle ‘n groot behoefte aan eksamenblokke en drukpapier het.”
Die gemeente gaan poog om voor die einde van die jaar die kerk se voorportaal vol te pak met hierdie spesiale rieme papiergeskenke.
“Daar is ongelukkig heelwat ouers wat nie skoolfonds kan betaal nie. Sommige skole ontvang so min as een derde van die verlangde skoolfonds. Ons het drie skoolhoofde in ons gemeente en ons probeer help waar ons kan.”
Ds Barnard het beklemtoon dat eksamenblokke en drukpapier een van die grootste uitgawes by skole is.
Die gemeente kry ook een keer per week ‘n broodjiebeurt vir 80 behoeftige kinders.
Die Laerskool Sonop op die dorp, het ook ‘n spesiale projek begin om hul finansies te versterk.
‘n Groep vrywilligers en adminpersoneel is soggens al sesuur op hul pos by die skool se snoepie.
Afgesien van die daaglikse gratis broodjies vir hulpbehoewende leerders, word die snoepie nou ook oopgestel aan almal wat graag vroegdag iets te drinke en ete wil kom koop.
Die ketels begin al knap na sesuur fluit vir die wegneemkoffie, -tee en -sjokoladedrankies.
Pastoor Morné Spies van die Lighuis Christelike Sentrum op Despatch, sê dat daar groot nood op Kariega en Despatch is.
“Ons sorg vir 19 gesinne en voorsien in al hul behoeftes. Ons het ook al vanjaar 273 kospakkies uitgedeel waar die nood groot is.
“Ons is ook betrokke by die Oosterland Jeugsentrum, ons het sopkombuise by klinieke, en bejaardes sal vanjaar ook ‘n volledige Kersmaaltyd kry.”





You must be logged in to post a comment.