CHRISTOS Dunamai Sangers gaan op Kersaand die 50 jaar sangbediening vier van Chris Ressouw en sy tydgenote, wat in 1969 in die stofstrate van Kabah daarmee begin het.
Hulle het saam met bekende sangers soos Harold Malgas, Andrew Petrus, Douglas Roman, Danny Jacobs, Piper Goliath en ander vir groot optredes, talle cds en baie inspirasie gesorg.
“Die doel was om ons brose gemeenskap geestelik te voed, veral in die moeilike sestiger- en sewentigerjare in Suid- Afrika,” het Chris Ressouw gesê.
As stigterslede van die bekende Christadelphians, is hulle musiek sterk beïnvloed deur musikante soos Gibson Kente, die Kings Messengers, Gloria en Bill Gaither asook die Golden Gates van die VSA.
“In Kabah het ons grootgeword in die dampkring van gospelgurus soos Enoch Sontonga, (Nkosi Sikelel iAfrika), Arthur Bala (pa van Zwai en Loyiso), Freek Simon (Brass orkes) asook Johnny Dennis. Al hierdie manne is van Kabah,” het Ressouw gesê.
Die Christos Dunamai Sangers se Kersfeestoer is as volg: Clarkson (13 Desember), Colchestor (14de), Kraaifontein (15de), Botrivier (17de), Kleinmond (19de), Piketberg (20ste), Oudtshoorn (22ste), Uitenhage Stadsaal (25ste), Klipplaat (28ste) en Graaf Reinet (29ste)
- Vir meer inligting bel Verney by 084 323 7723 of e-pos Chris Ressouw by chrisressouw@gmail.com


