Die gewilde The Meadows 4×4 Familiedag word vanjaar op 3 November in die Elands-riviervallei, sowat 30km van Rocklands af, gehou.
Vanjaar word nie net avontuursoekers met 4×4-voertuie genooi om die uitdagende roete aan te pak nie, maar ook 4×2 avontuurlustiges.
Volgens Donovan Whitehead, wat saam met sy vrou Sunelle dié 4×4 uitdaging en familiedag organiseer, word voertuie in groepe ingedeel om dit makliker te maak om die roete sonder enige onnodige oponthoud te voltooi. Elke groep het iemand wat die voortou vat. En daar is ook kategorie-pryse te wen.
“Dit gaan groot sports wees. Die rivier het water en die damme is vol, so ons is dankbaar,” sê Sunelle.
Die 4×4 roete gaan deur fynbosveld, verby asemrowende kranse en rotsagtige berg-oorhange en ook deur natuurlike bosse waar ou geelhoutbome gesien kan word.
Daar sal stalletjies wees met verskillende kosse, ‘n biertent (waar heuningkarrie geniet kan word), plaasprodukte, heuning, handwerk, kaas en vermaak vir die kleinspan. The Meadows het ook 2 gastehuise en ‘n kampterrein vir gaste wat wil oorbly.
Inskrywings sluit 31 Oktober.
- Vir meer inligting bel Donovan by 082 458 9699 of Sunelle 082 458 9580.





