Boot camps word ook in die buitelug aangebied

Verskaf

As jy oorgewig en van Eersterivier is, kan jy nie meer geld as verskoning gebruik om nie gesond te lewe nie.

Daarvoor sorg Roydon Filander en Thando Sithole se boot camps, want dit kos slegs R10 per sessie. Jip, jy het reg gelees, dit is nie nodig om die bank te breek vir daardie gesonde lewenstyl waarna jy jare reeds smag nie.

Hoekom so goedkoop? “Vir ons gaan dit nie daaroor om geld te maak nie, want ons het day jobs. Dit gaan oor ons passie om fiks te wees en ander te help om fiks te wees. Ons hou nie daarvan dat mense pille gebruik nie en as jy fiks is, kan jy die meeste pille vermy,” sê Filander, wat deur die dag batebestuur doen.

Maandag tot Donderdag tussen 18:00 en 19:00 is Filander en Sithole besig om mense se lewens te verander. “My hele lewe lank was ek betrokke by sport. As dit nie krieket was nie, was dit rugby of sokker.

Oor die jare het die aktiewe leefstyl verdwyn en ek het net ’n ‘gewone’ mens geword. Dit was tot ’n vriend my gevra het hoekom ons nie boot camps aanbied nie. Ek het dadelik ingestem en ek is nie ’n dag spyt nie,” sê Filander.

Volgens hom is baie mense gekant teen langdurige gimnasiumkontrakte en vandaar die R10-fooi wat hulle vra.

“Baie mense sluit by die gimnasium aan en voltooi nooit die kontrakte nie, dus vra ons mense om te kom wanneer hulle kan. Hoewel ons graag wil hê mense moet gereeld kom, is ons bly wanneer hulle wel kom.

“Aanvanklik het ons ook Vrydagaande klasse aangebied, maar ons het besef mense is baie besig op ’n Vrydag. Dus het ons nou twee 45 minuut-sessies op ’n Saterdag. Ons is ook besig om uit te brei en het reeds ook sessies in Stellenbosch.

“Vir ons gaan dit daaroor dat mense hul?selfvertroue terugkry. Sommige kere is die oefeninge bietjie moeilik, maar ons laat die mense weet dat hulle nie iets doen vir die een langs of agter hulle nie, maar vir hulself.

As jy goed lyk, sal jy goed voel en goed doen,” sê hy.

As jy in Eersterivier of Stellenbosch bly en saam met Filander en Sithole wil oefen, stuur ’n boodskap na 072 971 7147.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article