‘Wonderwerk het my gered’: Weerdiens het vroeër ’n oranje vlak 5-waarskuwing uitgereik

Die reuseboom het die bakkie se enjinkap platgeval en oor die kajuit geskuif.


Dis niks minder as ’n wonderwerk nie, sê ’n Brackenfell-man wat met net ’n skrapie aan sy hand daarvan afgekom het toe ’n reuseboom sy bakkie verlede Maandag (19 Junie) op die M3 in gure weer platgeval het.

Pierre Genis en sy kollega Dries Schietekat van Kraaifontein was verstom toe hulle ongedeerd uit die opgefrommelde voertuig geklim het ná die voorval wat omstreeks 09:30 plaasgevind het.

Die mans het hul werkswinkel in Brackenfell omstreeks 07:45 verlaat.

Hulle was onderweg om ’n kliënt in Constantia se masjiene te diens toe die boom net voor Queen Anne-rylaan omgewaai het.

“Ek het gesien hoe ’n tak van die boom af op die pad val en ek het die rem stadig begin trap. Terwyl dit op die pad val het ek uit die hoek van my oog gewaar dat die hele boom omwaai. Ek het vir Dries gesê hou vas hier kom die boom! Dit het die bakkie se enjinkap getref en opgeskiet en bo-oor die bakkie geskuif. Dit het die hele bakkie opgefrommel,” het hy verlede week aan TygerBurger vertel.

“Die bakkie het teen die boom tot stilstand gekom en die kajuit was ingebuig tot teen my gesig en albei lugsakke het ontplooi.

“Ek het vir Dries geskreeu hy moet uitklim, maar die enjin was nog aan en ek kon nie by die sleutel uitkom om dit af te skakel nie. Ek het probeer uitkom, maar my voet was vasgedruk en ek het vir Dries geskreeu om my te kom help. Hy en ’n bystander het die enjinkap oopgebuig en my been uitgeruk. Ek het toe uitgespring en Dries kon die enjin afsit.”

Dries Schietekat en Pierre Genis ’n dag of wat ná die ongeluk.

Genis sê hy kon nie glo dat hy en Dries uit die bakkie gekom het met net ’n skapie aan sy linkerhand nie.

“Ons is nie te getraumatiseer nie, maar bly maar dink aan hoe dit als gebeur het.

“Al wat ek kan getuig is dat die Here ons bewaar het daai dag. As ek enigsins vinniger gery het of nie rem getrap het nie, kon dit baie erger gewees het.”

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het die dag van die voorval ’n oranje vlak 5-weerwaarskuwing vir wind oor die grootste deel van die Wes-Kaap uitgereik.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article