Foto ter illustrasie.

123RF/belchonock

Parow-polisiebeamptes ondersoek ’n saak van sakeroof en kaping nadat ’n winkel op die hoek van Joubert- en De La Rey­straat, Klipkop, in Parow, onlangs deur misdadigers geteiken is.

Die voorval het omstreeks 08:30 op Vrydag 4 Februarie plaasgevind.

Kapt. Kevin Williams, polisiewoordvoerder, sê ’n verdagte wat hom as ’n wag van ’n private veiligheidsmaatskappy voorgedoen het, het die winkel na bewering 20 minute nadat geld daar afgelaai is, besoek. Dié man en nog drie verdagtes het die winkel daarna glo bestorm.

Hulle was in swart kleredrag, soortgelyk aan dié van veiligheidswagte, geklee en ook met koeëlvaste baadjies toegerus.

“Die verdagtes het die geld, wat vir Sassa-betalings bedoel is, gebuit. Die bedrag beloop sowat R390 000.”

’n Bakkie, wat aan ’n klant behoort, is ook gesteel.

Die verdagtes het in die gekaapte voertuig van die toneel af gevlug. Die bakkie is 10 minute ná die voorval teruggevind.

Williams sê geen skote is in die voorval afgevuur nie en geen beserings is aangemeld nie. Die verdagtes is nog op vrye voet en die ondersoek duur voort, sê Williams.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article