Winkel bedank vir sy hulp ná brand in Plattekloof Glen uitbreek

No caption found


Werknemers by ’n kruidenierswinkel in Plattekloof Glen is onlangs bedank vir hul bereidwilligheid om hand by te sit nadat ’n brand by ’n naburige gebou uitgebreek het.

Die brand het by ’n gebou in Duinhoop-rylaan, Plattekloof Glen, uitgebreek. Plaaslike inwoners en buurtwaglede het ingespring om die vlamme te help blus, maar hul poging sou nie sonder die hulp van personeel by die Pick n Pay-winkel oorkant die pad van die brandende gebou suksesvol gewees het nie, sê Chantal Dos Santos Domingo, bestuurder wat op die betrokke dag aan diens was.

Die waterpyp van die Pick n Pay-winkel is oor die

Die waterpyp van die Pick n Pay-winkel is oor die straat gespan om die vlamme te help blus. FOTO: Verskaf

Die winkel is geleë op die hoek van Duinhoop-rylaan en Monte Vista Boulevard.

“Op die dag van die voorval was ons besig om ons vragmotor met voorraad af te laai. Ek en my personeellede het die hele voorval sien gebeur.

“Ons kantoor-dame, Sharon van Zyl, was een van die eerste mense wat die brandweerdiens gekontak het, sowel as die eienaars van die swembad-sakeonderneming langsaan die gebou om hulle in kennis te stel van wat aan die gang is, aangesien hulle reeds gesluit was.

“ ’n Buurman het by ons ontvangs-erf ingehardloop en vir twee brandblussers gevra om die vuur mee te blus, waarna ons drie van ons eie blussers gegee het,” sê Dos Santos Domingo.Teen dié tyd het die vlamme reeds die gebou verswelg.

“Nog ’n man, waarskynlik nog ’n buurman, het ook gekom en vir brandblussers gevra. Ek het voorgestel dat hy eerder ons waterpyp gebruik wat by die ontvangs-afdeling geleë is.”

Die pyp is oor die straat gespan om by die brandende gebou uit te kon kom, om sodoende die vlamme te kon blus.

“Die volgende dag het die brandweerwag ons winkel besoek om ons persoonlik te bedank vir ons hulp. Ons as personeel is bly dat ons kon help. Ons maatskappy streef daarna om die gemeenskap te help en ons glo dat ons saam ’n verskil kan maak,” sê Dos Santos Domingo.

Die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste sê geen erge skade is tydens die brand op Maandag 30 Oktober om 19:00 aangemeld nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article