Die Laerskool Totius in Boston was sopas gasheer vir Suid-Afrika se eerste robotika-onderrig-werksessie waar 22 leerders in gr. 6 en 7 praktiese oplossings vir omgewingsprobleme ontwikkel het.
Die WRO Innovators-werksessie het op Vrydag 13 Maart plaasgevind as ‘n samewerking tussen die Wêreldrobot-olimpiade (WRO) en ChinguBots, ‘n plaaslike maatskappy wat robotika-stelle aan skole beskikbaar stel.
Tydens die projekgebaseerde leer-inisiatief moes leerders robotika-stelle gebruik om ontwerpe te skep en te kodeer vir praktiese probleme soos plastiekbesoedeling. Daarna het hulle hul eindprodukte aan die groep bekendgestel.

“Dit bied leerders ‘n waardevolle kans om idees te verken, kreatief te dink en op ‘n praktiese wyse buite die tradisionele klaskamerbenadering te leer,” sê Jovan de Bruyn van ChinguBots.
Die organiseerders beplan om hierdie soort werksessie landswyd na ander skole uit te brei. Die sessies is ook daarop gemik om skole bewus te maak van die WRO se nasionale en internasionale robotika-kompetisies.
Volgens De Bruyn sluit WRO Suid-Afrika se doelstellings aan by ChinguBots se visie om robotika en kodering met ander vakgebiede by skole te integreer.
“Die Laerskool Totius was die ideale gasheer, aangesien die skool ons toerusting reeds vir byna drie jaar gebruik. Dit was besonders om te sien hoe die leerders hul vakkennis gebruik het om die take uit te voer,” voeg hy by.
Kompetisie-geleenthede
Die WRO se kompetisie vind jaarliks op provinsiale, nasionale en internasionale vlak plaas. Dit sluit die afdelings Robo Mission, Future Innovators, Robo Sports en Future Engineers in.
Vanjaar se tema is “Robots meet culture”, en die eindronde sal in Puerto Rico plaasvind.
Die geleentheid speel volgens De Bruyn ‘n belangrike rol om nuuskierigheid aan te wakker, probleemoplossing aan te moedig en leerders te help om uiting te gee aan hul kreatiwiteit.





