Die laaste hoofstuk van twee van die Bellville-biblioteek se getrouste personeellede maak hierdie maand klaar.
Marietjie Bessinger, senior bibliotekaresse, en Martha de Wet, sekretaresse, tree albei einde Junie af.
Bessinger het 32 jaar vir die Stad gewerk, waarvan 29 jaar vir die Bellville-biblioteek. De Wet het 27 jaar vir die biblioteek gewerk.
Kollegas (oud en nuut), vriende en familie het verlede Donderdag by die biblioteek bymekaar gekom om hulde aan die twee te bring. ’n Oud-kollega het selfs van Oudtshoorn gery om dit by te woon en ’n ander van Dwarskersbos.
Albei is geprys vir hul toewyding aan hul beroep, vir hul harde werk en in later jare vir hul moederlikheid.
Bessinger se tegniese kennis van verwysingsbronne, haar professionaliteit en vriendskap is dikwels uitgelig.
Daarteenoor het mense dikwels verwys na De Wet, wat tegnologiese kennis soos min het, en ook maklik self sal inspring om iets reg te maak – hetsy ’n deur, telefoon of rekenaar.
Uit De Wet se toespraak op die dag is dit duidelik ’n mens moet nooit onderskat wat iemand by die biblioteek doen nie. Oor die jare het sy al menige oorstromings gesien, ’n brand bestry, ’n dief gejaag, deure reggemaak en gesellighede gereël.
Dis juis Bessinger se kantoor wat in 2020 heeltemal in ’n brand by die biblioteek verwoes is.
De Wet het ook al gesien hoe ’n motor teen die wal buite die biblioteek afry en ’n personeellid teëgekom wat ’n beroerte buite die biblioteek gehad het.
Bessinger en haar man, Piet, bly in Ridgeworth. Hulle het drie kinders, Jean (36), Mariel (33) en Nico.
Jean en sy vrou, Suzani, het twee kinders, Ruby (3) en Gabby (6 maande). Sy sien juis daarna uit om meer tyd saam met haar kleinkinders deur te bring.
Sy wil ook gaan reis, in hul huis in die Oos-Kaap gaan bly en haar huis regpak. “Ek wil al die wildparke besoek as ek kan,” sê sy.
“Covid-19 het my reistande getrek, en ek wil vergoed daarvoor. Die einde van die jaar gaan ek Duitsland, Oostenryk, Switserland, België en Holland toe en ek sien baie uit daarna,” sê sy.
De Wet en haar man, Lourie, wat in Labiance bly, het drie kinders – Henlou (38), Werner (36) en Rozanne de Beer (33). Al drie is getroud en het ’n kind elk. Henlou en Lourette het vir Emma (2), Werner en Carine vir Liam (4) en Rozanne en Corne het vir Riley (8 maande).
De Wet sien juis daarna uit om later vanjaar by haar dogter en haar gesin in Cairns in Australië te gaan kuier.
“Ons vertrek middel Augustus om by hulle te gaan kuier en kom weer middel November terug. Gelukkig is daar iemand wat na ons hondekinders en orgideë kan kyk!”
Haar man tree ook nou af en sy sê hoewel hulle nog nie juis beplan het wat om tydens hul aftrede te doen nie, hulle graag wil toer.
Sy is self ’n groot leser en sien daarna uit om ononderbroke by haar boeke uit te kom.





