Die Safety Parent Watch in Ruyterwacht. Van links is Gloria Jacobs, Aletta Lottering, Bernadette Brand, Eric Kaiser, Linette Langebalie, Patrica Kaiser en Patricia Stevens.FOTO: Jo Sekepane


’n Groep van agt werklose mense van Ruyterwacht het besluit om die skoolkinders in die gemeenskap veilig te hou deur hande met skole te vat en ’n ouerveiligheidswag te stig.

Aletta Lottering, leier van die groep, sê wat hulle doen is amper soos ’n “walking bus”, maar Ruyterwacht het nog nooit ‘n “walking bus” gehad waar mense se kinders skool toe geneem word en dan weer smiddae toesien dat hulle veilig is nie. “Wat ons besluit het, is om ons skoolkinders en seniors veilig te hou,” vertel Lottering.

Soggens tussen 07:30 en 10:00 begelei die groep kinders na die skole en dan ook smiddae van 12:30 tot 15:30 wanneer die kinders huis toe gaan.

Skole het hande gevat

“Ons ondervind verskriklik baie uitdagings, maar ons deal daarmee. Die skole het hande gevat.”

Hierdie groep van agt het hulself aan die hoofde van die skole in die Ruyterwacht-omgewing gaan bekendstel. “Ons werk saam aan oplossings vir hoe ons dit vir ons kinders beter en veiliger kan maak, op én weg van die skoolterrein af.”

Daar is gereeld twee mense by ’n skool en twee by die senior klub.

Eric Kaiser, die enigste man in die groep, is by De Waveren Primêr van 7:15 tot 14:30, waar hy voltyds patrolleer.

Hierdie groep werk nou saam met Ruyterwacht-buurtwag.FOTO: Jo Sekepane

Patricia Kaiser en Bernadette Brand is van 7:30 tot 10:00 en dan weer 14:00 by Florida Vaardigheidskool.

Patricia Stevens en Rejeanne Jansen is by Goodwood College en hulle is ook die sigbare patrolleerders van die groep.

Hierdie groep loop eers in die oggende na die “tuckshops” toe, waar skoolkinders gereeld eers sigarette gaan koop. Hierdie is een van die grootste uitdagings van die groep.

Linette Langebalie is by die duikweg. Dit is ’n gevaarsone waar kinders van ander gebiede af kom en waar hulle oor die treinspoor moet loop. Die meerderheid van hierdie kinders word afgelaai en moet dan oorstap; daar is dan gereeld misdadigers wat daar rondhang en nie daar hoort nie.

Ouers is verskriklik bly

“Ouers is verskriklik bly as hulle ons sien, want voorheen is al baie kinders op pad skool toe beroof,” vertel Langebalie.

Die groep het al die misdadigers met gevaarlike wapens in hul besit aan die Elsiesrivier-polisie uitgewys.

Gloria Jacobs beman ’n brandpunt – die hoek van Princess Elizabethstraat tot by die hoek van Corner Shop, naby die bruggie wat na die Sakubula-woonstelle toe oorgaan.

Jacobs noem weer eens die probleme wat hulle met snoepwinkels ondervind oor die sigarette wat aan die minderjarige kinders verkoop word.

Die Safety Parent Watch-lede saam met lede van die Ruyterwacht-buurtwag op hul Vrouedag.FOTO: Verskaf

Kinders van verskillende gebiede maak gereeld gebruik van hierdie roete op pad skool toe. Van die kinders kom van onder meer Mitchells Plain, Bishop Lavis, Bonteheweul, Gugulethu en Monte Vista.

Ná die leerders se stop by die snoepwinkel rook hulle in uniform saam met kinders wat selfs die lede afjak met “julle sê nie vir my nie”.

“Ons hou ons gemeenskap veilig, want ons word deur baie misdaad in die gesig gestaar,” vertel Patricia Stevens.

“Ons sit met ‘lolly lounges’ waar kinders skool bank; ons haal kinders uit gangetjies uit, en kinders wat dagga rook.

“Baiekeer dink ouers hul kinders is skool toe, maar op die ou einde kry ons hul kinders langs die pad besig met dinge wat hulle nie veronderstel is om te doen nie.

“Ons is ook in vennootskap met die Stad Kaapstad, die departement van maatskaplike ontwikkeling se kantore en Elsiesrivier-polisie.

“Die veiligheidswag is ook deur hul wyksraadslid, Chris Jordaan, goedgekeur. Hulle sal graag wil hê meer mense moet betrokke raak.

“Ons sal wil hê ander gemeenskappe moet dit ook doen. Aan ander gemeenskappe wil ons sê, staan op – ons almal beleef misdaad, laat ons saamstaan om gemeenskappe veiliger te maak. Ons moet ophou sit en kla.”

Uitdagings en oplossings

Maandelikse vergaderings word gehou waar uitdagings en oplossings bespreek word.

Die twee mense wat by Florida-vaardigheidskool staan, dek sommer die Ruyterwacht-daghospitaal ook.

Een van die buurtwaglede patrolleer die gebied waar hy foto’s neem van kinders besig met verkeerde dade, waarna dit aan die skole gestuur word, waar hulle dit met die leerder en hul ouers opneem.

Hulle sal op 29 Oktober ’n verkoping hou om geld in te samel.

“Ons as huisvroue en plaaslike manne doen hierdie werk uit liefde.”

Die groep het ook op Vrouedag ’n geleentheid gehou wat goed deur die publiek ondersteun is. Dit het op Stan Abbot-sportterrein plaasgevind en is deur Bokradio geborg.

“Dit was ’n groot sukses en is deur meer as 120 mense bygewoon,” sê Patricia Kaiser.

Die lede vertel wanneer die kinders se vervoer hulle nie by die skole kom haal nie, skakel die groep in met die polisie, wat hulle dan huis toe neem.

Van die lede wat oorkant die skool woon, laat selfs die kinders onder hul afdak sit wanneer dit reën of hulle nog op vervoer wag.

Die groep bestaan uit mense tussen 40 en 58 jaar.

“Ons sit met die probleem dat seniors in vrees lewe; ons reik uit na hulle ook, en dan verwys ons hulle na die departement van maatskaplike ontwikkeling en die polisie. Baie mense lewe met trauma en ons verwys hulle ook na die terapiekamer by die NG kerk in Saldanhastraat.”

Hierdie groep gaan ook op 29 November ’n bewusmakingsveldtog, 16 Dae van Aktivisme, in samewerking met die polisie en die slagoffersteunsentrum se vroue aanbied.

Kontak Aletta Lottering by 060 623 6123. om deel van die groep te word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article