Daar gaan nou ’n plan saamgestel word om dadelik aan van die ergste paaie in Bonteheuwel te begin werk. Foto: Unsplash


’n Kontrak ter waarde van meer as R80 miljoen is jare reeds beskikbaar, maar weens verskeie redes kon die werk net nooit aan die gang kom nie, met inwoners wat sukkel weens die gesloer.

Die plaaslike raadslid, Angus McKenzie, het nou aangekondig dat werk aan die paaie eersdaags begin.

“Ek het onlangs die burgemeesterskomiteelid vir stadsmobiliteit en van die senior amptenare na Bonteheuwel gebring sodat hulle self kon sien wat die probleme is en self kon ervaar wat inwoners elke dag deurmaak.

“Daar gaan nou ’n plan saamgestel word om dadelik aan van die ergste paaie in Bonteheuwel te begin werk,” sê McKenzie.

McKenzie het die inwoners vir hul geduld bedank.

Verstaan frustrasie

“Ek verstaan inwoners se frustrasie en ek wens dit was anders, maar in die komende paar weke gaan dinge begin gebeur. My wens is ook dat inwoners die werkers die vryheid sal gee om hul werk ongestoord te doen, want uiteindelik gaan almal by die opknappingswerk baatvind. Ons doel is om die lewe vir elke inwoner van Bonteheuwel te verbeter,” sê hy.

Hy kan nog nie bevestig wanneer die kontrakteur vir van die groot projekte aangestel gaan word nie, maar hy hoop dit sal nog vanjaar geskied.

“Ons mense wag al lank.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article