’n Groeiende liggaam en ontwikkelende brein benodig gesonde kos. As jy wil hê jou kind moet in die skool aandag gee, is ontbyt belangrik.
Daardie eerste maaltyd voor skool help om bloedsuikervlakke te reguleer, wat ’n rol speel in gemoed, energievlakke en fokus.
’n Goeie begin is halfpad gewin, maar moenie van daardie kosblik of kospakkies vergeet nie.
Volgens nasionale riglyne is daar sewe voedselgroepe wat gereeld ingeneem behoort te word: styselkosse, vrugte en groente, droë bone, ertjies, lensies en soja, hoender, vis, vleis en eiers, melk, maas, jogurt; vet en olie; en water. Aanbevelings is:
- Geniet ’n verskeidenheid kosse.
- Sluit styselagtige kosse in by die meeste etes.
- Eet heelwat groente en vrugte elke dag.
- Eet droë bone, kekerertjies, lensies en soja gereeld.
- Geniet daagliks melk, maas of jogurt.
- Vis, hoender, maer vleis of eiers kan daagliks geëet word.
- Drink baie skoon water.
- Beperk vetinname en gebruik eerder groente-olies as harde vette.
- Beperk die gebruik van suiker asook kos en drankies met ’n hoë suikerinhoud.
- Beperk die gebruik van sout en kos met ’n hoë soutinhoud.
Keuses
Hou kospakkies interessant deur ’n verskeidenheid teksture, kleure, geure en vorms in te sluit.
Toebroodjies bly ’n staatmaker, maar kies eerder volgraan-, lae GI- of saadbrood as witbrood.
Vulsels kan insluit snytjies hoender of ham; tuna en eier met mayonnaise; komkommer, tamatie en kaas; grondboontjiebotter; en konfyt en Marmite of Bovril.
Muffins kan soms die toebroodjies vervang, maar bak eerder self semel- of piesangmuffins, want dié van winkels bevat gewoonlik baie vet en suiker. Gevulde pitabroodjies, skons of pizza is nog keuses wat in die plek van toebroodjies gepak kan word.
Genoeg vloeistof is veral nou in die somer belangrik. Water bly die beste keuse, maar ystee, vrugtesap, gegeurde melk en drinkbare jogurt is nog opsies.
Heel vrugte wat maklik eetbaar is, bly ’n wenner. Vir kinders wat dalk nie so gaande is oor vrugte nie, kan dit opgesny en by jogurt gevoeg word.
Wees verbeeldingryk met groente. Humus of ’n laevet-slaaisous kan wortelstokkies, soetrissies, seldery, komkommer of kersietamaties opkikker.
Droëvrugte, gemengde neute, grondboontjies en rosyntjies is ook goeie opsies vir ’n kosblik.
En bederfies is nie heeltemal verbode nie. Af en toe kan lekkernye soos koekies, mini-sjokolade of energiestafies ingesluit word.





