Stappers kan begin strek vir die volgende Weg-stapfees in samewerking met Salomon en Cape Union Mart.
Die fees word van Vrydag 20 tot Sondag 22 Februarie op Meerendal buite Durbanville aangebied.
Die Weg-stapfees is ‘n lekker bederf vir stappers.
Dis ‘n naweek waar jy jou fiksheid vir die Vis-, die Otter- of die Amatolaroete in die veld kan toets en sommer lekker kan gesels met ander mense wat versot is op stap. Dit werk soos ‘n pretloop, maar jy stap.
Die eerste twee Weg-stapfeeste in 2024 en verlede jaar was albei baie suksesvol en is deur duisende stappers bygewoon.
Afstande by die stapfees
- Vrydag 20 Februarie: ‘n 6 km-stap om 18:00 (geskik vir die hele gesin);
- Saterdag 21 Februarie: Kies of jy aan die 6 km-, 12 km- of 21 km-stap wil deelneem. Die verskillende pretstappe spring op verskillende tye weg, maar almal is vroegoggend.
- Sondag 22 Februarie: 10 km-stap om 07:00.

Die feesterrein is weer op die grasperk langs die proelokaal, en vanjaar sal daar koffie- en kosstalletjies wees. Daar word ook bier verkoop.
By die ekspo-ruimte gaan jy verlei word deur die borge, Salomon en Cape Union Mart, se nuutste toerusting. Solal bederf ook die stappers op ‘n heerlike manier.
Roetes
Wat die roetes betref, is ‘n paar veranderings gemaak.
Die kort afstande, sowel as die Sondagroete, bly dieselfde. Op die Saterdag sal die 12 km-stappers vanjaar ‘n hele nuwe roete stap, en die 25 km-roete word ingekort tot 21 km. Slegs die langste afstand, die 21 km, sal vanjaar oor Dorstberg loop.
As jy nie in die omgewing woon nie, kan jy ‘n kamer in die boetiekhotel op Meerendal bespreek of by ‘n gastehuis in Durbanville.
Bespreek by die boetiekhotel op Meerendal by dieselfde skakel waar jy inskryf. Maar jy moet spring, daar is net ‘n handvol kamers beskikbaar.
Die staptogte is alles op gruis- en grondpaaie — nooit teer nie. Die 21 km-roete loop oor Dorstberg (‘n stywe bult op los klippe) en gewone tekkies gaan nie die mas opkom nie.
Veral die 21 km-roete is ‘n stewige stappie en ons raai deelnemers aan om goed voor te berei.
Skryf nou in vir die Weg-stapfees by topevents.co.za






You must be logged in to post a comment.