Foto van WEST: Mac Young, Ernie Bates en Hugo Hewitt.
WEST bestaan uit Mac Young, Ernie Bates en Hugo Hewitt.

Ná ‘n jaar se afwesigheid in die musiekbedryf keer die country-groep WEST terug na die verhoog met iets groter as ooit tevore.

Die Kaap het gevra en WEST het geantwoord. Hulle bring nuwe liedjies en ou bekendes saam vir hul vertoning op Saterdag 7 Maart om 19:00 in die Kraaifontein-stadsaal op die hoek van Brighton- en Darwinweg.

Foto van WEST, country-trio
WEST blaas nuwe lewe in countrymusiek met hul harmonieuse vertolkings.

Die trio was goed op dreef toe hulle weens ‘n persoonlike tragedie vir eers moes rem aandraai. Ná bykans ‘n jaar het die manne die perd weer opgesaal en is hulle opnuut besig om die musiekbedryf te verower.

In minder as twee maande het hulle die splinternuwe enkelsnit “Halfway gone” vrygestel, ‘n hele nuwe produksie aan die gang gekry en so pas hul jongste album, Tribute 2, vrygestel. Met hul Tribute-reeks bring die driemanskap hulde aan gewilde country-bekendes van die verlede wat die genre bevorder en in gewildheid laat groei het.

Sukses

WEST het dit goedgedink om ‘n Kaapse draai te maak aangesien hulle juis hier sukses behaal het met hul optredes by die CTC-konserte en in voor-optredes by twee Smokie-konserte in die laaste paar jaar.

En as hul aanhangers vra, dan probeer hulle hul bes om die mense wat hulle so lojaal ondersteun, gelukkig te maak, sê Hugo Hewitt, wat lid is van die trio saam met Ernie Bates en Mac Young.

Tafels en sitplekke is beskikbaar vir die Kraaifontein-vertoning. Daar sal ‘n kontantkroeg wees en gaste kan hul eie verversings saambring. Die deure maak om 18:00 oop. Amore Rudman tree in die voorprogram op.

Kaartjies is beskikbaar by opentickets.co.za of bel Christo van Bakgat Promosies by 082 895 5093 met navrae.

WEN! WEN! WEN!

Drie lesers kan elk twee kaartjies wen vir WEST se vertoning op Saterdag 7 Maart in Kraaifontein. Die kompetisie sluit Donderdag 26 Februarie om 16:00. Skryf nou in!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article