Die Welgemoed-kunstefees, enig in sy soort in Kaapstad se noordelike voorstede, word vanjaar vir die derde keer aangebied van Vrydag 23 Augustus tot Sondag 8 September.
Welgemoed sal die middelpunt van kunste wees, waar ’n breë verskeidenheid programme aangebied word in die Welgemoed-kerksaal en -ouditorium in Diazstraat.
- Boek en Koek – Saterdag 24 Augustus;
- Kunskafee – Maandag 26 tot Donderdag 29 Augustus;
- Praktiese werksessies – Dinsdag 27 tot Donderdag 29 Augustus;
- Reünie deur Frank Opperman – Dinsdag 27 Augustus;
- Fietsry vir Dommies met Eldon van der Merwe – Donderdag 29 Augustus;
- Voetspore deur Suid-Amerika met Johan Badenhorst – Saterdag 31 Augustus;
- Potjiekoskompetisie – Saterdag 31 Augustus;
- Kinderteater – Saterdag 31 Augustus;
- Kinderboeke: Bianca Flanders – Sondag 1 September;Mensehandel en kinders wat verdwyn – Sondag 1 September;
- Beste vriende sing Laurika – Woensdag 4 September;
- Rewind: A tribute to Music Legends of the 80’s – Vrydag 6 September;
- Klassieke konsert – Sondag 8 September.
Heerden van Niekerk, mede-organiseerder en leraar van die NG kerk Welgemoed, het aan TygerBurger vertel die ontstaan van die kunstefees is die sappige vrugte van kuns en vermaak wat gepluk met die afwending van die Covid-beperkings.
“Die ontstaan van die Welgemoed-kunstefees is ’n prentjie wat ek sien met klomp lyne wat saamgeloop het in 2022 net nadat die Covid-beperkings gelig is. Danksy mense van vele talente en netwerke het al dié lyne gekruis en byeengekom om dit op die been te bring.
“By die lyne se kruising het iets wonderliks ontstaan. In die Covid-tyd het ons as mense besef hoe afhanklik en interafhanklik ons van mekaar is. Nie net gehore nie, maar kunstenaars veral, is so afhanklik van samekomste op die verhoog waar hul talente kan seëvier om brood op die tafel te kan bring,” meen Van Niekerk.
“Ons het van die beste kunstenaars in die hele wêreld, en die Welgemoed-kunstefees is waar ons dié kunste bymekaar maak in ons plaaslike gemeenskap en vanuit die plaaslike gemeenskap.”
Nog ’n faktor wat ’n rol gespeel het, was die NG kerk Welgemoed wat sy fasiliteite en hulpbronne saamspan om gehore, kunstenaars en skrywers oor gemeenskaps- en kerkgrense heen saam te snoer, sê hy.
“Ons moenie so in silo’s lewe nie. Dit is die taak van die kerk om silo’s af te breek en gemeenskaplike inisiatiewe byeen te bring om saam die mooi van die lewe te geniet. Die ouditorium se akoestiek is wonderlik en dié “boere-katedraal” verleen hom tot ’n unieke venue vir die kunste,” sê hy.
Met ’n goeie balans tussen toneel, musiek, kuns, kos, boeke en meer, bied die Welgemoed-kunstefees iets vir almal, oud en jonk. Dis ’n geleentheid vir mense van die noordelike voorstede en omliggende gebiede om bymekaar te kom, saam te kuier en hul liefde vir die kunste te deel.
Volg Welgemoed-kunstefees op Facebook of besoek www.ngkwelgemoed.co.za/kunstefees vir meer inligting. Bespreek kaartjies by Webtickets of enige tak van Pick n Pay.





