Die Tygerbergse Vereniging vir Mense met Gestremdhede (APD) is ’n organisasie wat aan mense met gestremdhede en hul families hulp verleen.
Die vereniging bedien tans die hele noordelike voorstede. Maar wanneer jy hulle besoek, ry jy twee keer verby omdat jy dit half nie kan glo dat ’n vereniging wat sulke belangrike werk lewer, so weggesteek is nie.
Die Tygerberg-APD het vanjaar sy 60ste bestaansjaar gevier, maar sê hy word deur baie uitdagings in die gesig gestaar.
Huur is ’n uitdaging omdat die vereniging nie ’n groter perseel kan bekostig nie.
Maar, volgens Ronel Smit, uitvoerende hoof van die vereniging, maak hulle die beste van dit wat hulle het.
Smit is nou al 18 jaar by die Tygerberg-APD betrokke en net bietjie meer as ’n jaar en sewe maande in die bestuur. Smit maak ’n grap en sê sy het al die werk in die vereniging gedoen.
Volgens haar word die vereniging deur baie uitdagings in die gesig gestaar. Die grootste was dat die vereniging twee keer in die sestig jaar al amper gesluit het. “Verlede jaar was ons in ’n baie slegte posisie – ook na aan toemaak, maar ons het oorleef,” sê Smit.
Die vereniging moes personeellede afdank, en die strukture vreeslik herrangskik en skedules verander.
Dit is partykeer moeilik
Smit meen al die borge is een van die hoogtepunte van die vereniging se bestaan, tesame met die welsynwinkel wat hulle begin het en die kontrakteurs wat aan die werkswinkel werk verskaf. “Was dit nie vir hulle nie, sou die vereniging dit nie survive het nie.”
Die vereniging het in Maart vanjaar 60 geword en het vandeesmaand die mylpaal op sy vergadering.
Op die oomblik het die vereniging slegs twee maatskaplike werkers, twee hulp- maatskaplike werkers, ’n winkelkoördineerder.
Volgens Smit staan sy die poste vol van uitvoerende hoof, werkswinkelbestuurder, administrateur en skoonmaker.
“Dit is partykeer baie moeilik om by al die rolle uit te kom. Partykeer weet ek nie waar ek moet wees nie; hoeveel hande moet ek hê?” vra Smit.
“As werkswinkelbestuurder is ek verantwoordelik vir al die werk wat begunstigdes moet doen en om kontrakte te kry om die werk te verskaf.”
Sakgeld
Die grootste uitdaging is om kontrakte te kry, vir assembled work en begunstigdes (diegene met gestremdhede) om ons getalle vol te kry, maar die uitdaging daar is vervoer, meen Smit.
Die vereniging het ’n protective workshop, wat beteken die begunstigdes kry ’n toelaag, maar dit is nie baie nie.
“Dit is soos ’n sakgeldjie; dit is nie genoeg om ’n huishouding te onderhou nie. En om van ver af te kom tot hier, kos meer as wat hulle verdien nie,” sê Smit.
Meeste begunstigdes is van Goodwood, Ruyterwacht, Elsiesrivier en omliggende areas.
Smit is op die jaarvergadering beskryf as die gom wat die vereniging staande hou.
Zikhona Siswana, een van die maatskaplike werkers by die Tygerberg-APD, meen elke dag is ’n leerskool. Sy sê daar is nog baie ruimte vir verbetering. Een van haar grootste uitdagings is die straatmense wat sommer reg voor die vereniging se deur of om die draai slaap.
“Hulle doen alles hier en dit stink verskriklik,” sê Siswana.
Volgens Smit sal die vereniging donasies baie waardeer.
- Vir meer inligting kontak Smit op 021 592 4173





