Wees versigtig langs Jakes Gerwel-en Valhalla-weg, sê die polisie

Foto ter illustrasie. Foto: Shutterstock


Die Bishop Lavis-polisie het inwoners gewaarsku om versigtig te wees wanneer hulle Jakes Gerwel-en Valhalla-weg gebruik, nadat ’n groot toename in diefstal uit motors onlangs daar bespeur is.

Die toename dié tipe misdaad word toegeskryf aan die toename in dwelmmisbruik in die gemeenskap, sê die polisie.

Volgens sers. Samantha Adonis, polisiewoordvoerder, moet veral motoriste versigtig wees.

“Ek doen ’n beroep op mense om asseblief oplettend en versigtig te wees wanneer hulle in die omgewing beweeg. Daar is verskillende maniere wat die boewe toeslaan. Een taktiek is dat hulle vinnig ruite breek, iets gryp en dan tussen die plakkershutte verdwyn,” sê Adonis.

Verdagte gedrag

Adonis sê duidelike tekens dat ’n aanvaller beplan om toe te slaan is wanneer dit voorkom of hy doelloos tussen motors rondstap.

“Hy sal ongeërg by motors se ruite inloer totdat hy ’n waardevolle besitting sien. Hierdie ouens is in baie gevalle nie amateurs nie en hulle is so vinnig dat jou reaksietyd beperk is.

“Dit is belangrik dat waardevolle besittings nie duidelik sigbaar is wanneer jy bestuur nie. Die veiligste plek vir iets soos ’n skootrekenaar is in die kattebak,” sê Adonis.

Publiek se hulp nodig

“Die polisie werk nou saam met ander wetstoepassingsagentskappe soos die verkeersafdeling om hierdie tipe misdaad hok te slaan, maar ons het die publiek se hulp nodig.

“Een van die dinge wat ons doen is om in spitstye sigbaar by die brandpunte te wees. Ons deel ook gereeld pamflette uit om mense teen die gevare te waarsku.

“Buurtwagte is ook van baie groot hulp om hierdie plekke vir almal veilig te hou

“Die feesseisoen is op ons en nes wetsgehoorsame burgers het die boewe ook geld nodig en dit is waarom hulle steel. Moet jy nie die bron van hul inkomste wees nie,” sê Adonis.

Sy vra dat wanneer iemand ’n slagoffer word, hulle asseblief nie die diewe agtervolkg nie.

“Jou lewe kan in gevaar wees.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article