Hier is nou vir jou ’n uitdaging: stap tydens besoektyd in enige privaat kliniek vir geestesgesondheid in en kyk of jy kan sien wie die inwoner en wie die besoeker is.
Meeste mense dink dis maklik. Die een met die hartseer gesig? Of wat stil is? Die een in pajamas?
Jy gaan sukkel, ek belowe.
En ek weet, dis ’n speletjie wat ek al baie gespeel het. Telkemale as besoeker en meermale as pasiënt.
Ons lyk soos jy. Ons tree soos jy op. En selfs as pasiënt in ’n kliniek gaan jy nie die verskil agterkom nie.
Dis een van die vele redes hoekom dit so ’n gevaarlike siekte is: omdat lyers nie eintlik lyk of hulle aan die binnekant verdrink nie.
Boonop sê die siekte vir jou jy doen iets verkeerds om so af te voel. En jy moet net harder probeer om gelukkig te wees. Maar hoe harder jy probeer, hoe meer verdrink jy in plaas van swem.
Eers moet jy verstaan dat ek regtig ’n fantastiese lewe het: twee jong kinders, ’n liefdevolle man, ’n stabiele werk, ’n ondersteunende familie en vriendekring.
Die eerste keer wat ek kliniek toe is, het my jongste juis pas twee geword.
Ek dink dis hoekom my donkerte soveel mense onkant gevang het – hoe kon ek depressief wees? Iemand het dit nog anderdag vir my gevra. Die man het geldelike probleme, sê hy. Maar ek? Wat is my verskoning? En ek verstaan daai gevoel. Toe my broer in ’n motorongeluk was en vir weke in die waakeenheid gelê het, het daar ’n meisie gelê wat herstel het nadat sy weens depressie ’n oordosis pille gedrink het. “Hoe durf jy iets so kosbaar soos die lewe so wil verspil?” het ek in my binneste gevra.
Maar die lewe het mos nou maar ’n snaakse manier om vir jou dinge te kom wys, want jare nadat ek daai meisie so aangegluur het, kon ek heeltemal verstaan hoekom sy net wou wegkom.
Die beste manier om dit te beskryf is hoe die skrywer Matt Haig dit verduidelik: As mense uit ’n brandende gebou spring, is dit ’n tragiese verhaal wat in ’n mate sin maak, omdat hulle van die vuur moes wegkom. Hulle het net gevoel daar’s nie ’n ander opsie nie.
Mense wat hul lewe neem, voel dieselfde. Die vuur is net in hul binneste.
Depressie is baie dinge, maar een ding is dit beslis – ’n ernstige, ernstige siekte. Een soos suikersiekte of kanker.
Mense wat daarmee sukkel is nie “mal” of “swak” nie. Hul optrede is dikwels net simptome van ’n siekte.
Selfmoordgedagtes? ’n Simptoom. Irritasie? ’n Simptoom. ’n Algemene gevoel dat jy soos ’n blikkie Coke is wat al sy gas verloor het? Reg geraai. ’n Simptoom. En so sal party mense al die simptome hê en ander dalk net enkele.
Ek was gelukkig – ’n wonderlike sielkundige en fantastiese psigiater het my uit die donker moeras getrek. En van kleins af is ek geleer mense wat bedruk voel, drink soms pille en gaan soms sielkundiges toe.
Boonop is ek ’n vrou en vrouens mag huil. Selfs tough vrouens.
Dis ’n tragedie, en ’n rubriek op sy eie, maar mans word te dikwels deur die lewe anders geleer.
Dalk is dit tyd om vir ons geliefdes te herinner dis oukei om nie oukei te wees nie.
Hier is jou teken. Daar is hoop. Ek belowe.





