Dis daardie tyd van die jaar wat die wilskrag soggens bietjie worstel om die duvet oop te trek.

Winter is die seisoen wat ons herinner aan die siklus van die lewe, met die goeie en die slegte wat daarmee saamgaan. Vir die natuur is dit ’n tyd van rus. ’n Noodsaaklikheid.

Volgens die astronome begin die winter eers op 21 Junie, die dag met die lang nag, die Suidelike Halfrond se wintersonstilstand – wanneer die aarde aan hierdie kant die grootste afstand van die son bereik.

Die weerkundiges bepaal hulle eerder by die temperatuur en sê 1 Junie is die begin van winter – die begin van die drie koudste maande van die jaar.

Ek dink ek skaar my maar by die weerkundiges, want ek voel die byt in die lug. En in my vingers en voete.

Wees gewaarsku, almal wat deesdae weer wil bladskud “post-pandemie”, ek gaan jou wawyd wakker groet met ysblokkie-vingers. Die hand is koud, skat!

En my pootjies gaan waarskynlik eers lank ná die weerkundiges se einde van winter (31 Augustus) of die astronome s’n (vanjaar blykbaar 23 September) regtig weer ontdooi.

Gepraat van byt, winter kom mos ook met ingeboude aptyt. Gaan haal eerder ’n kombers of nog ’n trui, maar nee …

Die peusellus moet ons seker maar beteuel, maar wat sou die winter wees sonder bietjie trooskos – bredies, sop, kerriegeregte. Daar wag nog ’n hele paar resepte om uit te toets.

Oefening is nogal ’n goeie, eintlik noodsaaklike, teenvoeter vir winter­vetjies – ’n wen-wen soos Stephen Covey (van The Seven Habits-faam) sou sê.

Dit maak warm, verbrand kilojoules en boon­op is ’n goeie dosis endorfien mos net die ding om winter-blues af te weer.

Hier aan die suidelike kant van die planeet is ons eintlik glad nie so sleg af wat die weer betref nie. (Ja, ek weet die winter gaan danksy Eishkom donkerder en kouer wees, maar let’s not go there.)

In die noordelike halfrond het ek die eerste keer gehoor van seisoenale depressie of SAD – seasonal affective disorder. Buiten dat dit baie kouer word ver noord, is die daglig-ure mos maar knap – so te verstane dat dit mense sad kan maak.

Hier in die suide kry ons in die winter steeds die mooiste dae wat die son darem gesig wys. En wat is dan nou lekkerder as ’n stappie op so ’n mooi sonskyn-wintersdag wat tussen die storms hul opwagting maak.

Al opgelet hoe die landskap se kleure ophelder in die eerste sonlig wat deur die reënwolke beur? Alles lyk varser, selfs al is die bome kaler.

Die eerste naweek van Junie het ons met ’n eg Kaapse storm verwelkom. Op pad Overberg toe sien ek net takke en blare orals waai.

Ek het al honderde kere oor die Franschhoekpas gery, maar elke keer is dit op ’n ander manier mooi. Namiddag-sonstrale deur die wolke beklemtoon dele van die landskap. Oral stroom water in klein wattervalletjies en ’n paar indrukwekkende watervalle ná die goeie reën.

Om elke draai ’n nuwe blik.

Ek ry verby Theewaterskloofdam en onthou hoe verskriklik anders die prentjie gelyk het ’n paar jaar gelede toe dit meer sand as water was. Viva winter!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article