In Junie vanjaar toe breek die nuus -die wêreldbeheerliggaam vir motorsport, die FIA, keur die Graad 1-status opgradering van die Kyalami-renbaan in Midrand, Gauteng goed. ‘n Besluit wat dié geskiedkundige Suid-Afrikaanse renbaan dan in staat sal stel om ‘n Formule Een (F1) Grand Prix-wedren hier aan te bied.
Die nuus word wyd op sosiale media gedeel deur al wat ‘n nuusagentskap is, en ek kan verstaan waarom. Ek is self kinderlik opgewonde oor die nuus.
Hoewel dit ‘n stap in die regte rigting is vir ons as ‘n land om ‘n Grand Prix aan te bied, moet ons ook realisties wees – dit kos miljarde rande.
Twintig jaar gelede was daar nie so baie opgewondenheid rondom F1 soos vandag nie. Maar sedert die Amerikaanse maatskappy Liberty Media die kommersiële regte van die sport oorgeneem het en dit beter en sterker begin bemark het, is dit vandag dwarsoor die wêreld net so gewild soos krieket, sokker en rugby.
Die NetFlix dokumentêr Drive to Survive, is seker nog meer verantwoordelik vir die gewildheid, en met die bekendstelling van Jerry Bruckheimer se fliek F1 The Movie, met Brad Pitt in Junie vanjaar, voorspel ek dat nog miljoene aanhangers en kykers vir dié sport Sondae gaan inskakel.
Ek kan nou nog onthou waar ek was toe ek die foto van Gayton McKenzie, minister van sport, kuns en kultuur, sien in ‘n vergadering met Stefano Domenicali, die grootbaas van F1, en Mohammed Ben Sulayem, die grootbaas van die FIA. ‘n Politikus wat sy werk doen.
Ek onthou nog my woorde aan my skoonpa: “As hy F1 Suid-Afrika toe bring, moet hy sommer president word.”
Die sport se groeiende gewildheid is iets goed, en as jarelange fên, is ek dankbaar dat dit selfs ons eie politici se aandag gevang het.
Ek onthou, daar was jare gelede reeds sprake dat Kaapstad ‘n Grand Prix sou aanbied, maar die storie het doodgeloop. In 2023 het die Moederstad wel gasheer gespeel vir die Formule E-wedren, die reeks waarin elektriese renmotors deelneem en is daar ten minste bewys dat die Kaap wel in staat is om so iets aan te kan bied. Verskeie lande het al voorheen ‘n F1 Grand Prix aangebied, wat vandag nie meer op die kalender is nie. Gasheerlande kom en gaan, maar die sport hou aan groei.
‘n Ruk gelede vra ‘n motorsport-joernalis aan die sewe-malige wêreldkampioen en huidige Ferrari-renjaer, Lewis Hamilton, waar hy eendag graag ‘n F1 Grand Prix sou wou hê, en hy antwoord “Afrika”. Daar is vanjaar altesame 24 rondtes in F1, op elke vasteland behalwe Afrika en Antarktika.
Almal in Suid-Afrika sal soos ‘n goed ge-oliede masjien moet saamwerk om ‘n Grand Prix hier weer suksesvol aan te kan bied. Dit kan gebeur en ons land het bewys dat ons die vermoë het om dit te kán doen. Die wilskrag, entoesiasme en belangstelling is oëskynlik daar, so ek wil hoop en glo dat dit wel kan gebeur.
Daar is natuurlik diegene wat skepties is. Die van ons wat al by die 30 jaar lank wag vir ‘n F1 Grand Prix om op plaaslike bodem weer plaas te vind soos ek, gaan stilletjies hoop dat Suid-Afrika, net soos met die sokker- en rugby-wêreldbekers, dit sal regkry.





