Twee ongelisensieerde pistole, ammunisie en dwelms is gevind toe ’n verdagte voertuig gistermiddag in die Durbanville-sakekern naby die Laerskool Durbanville deur lede van die Maitland-blitspatrollie afgetrek is.
Dit kom skaars meer as ’n week nadat ’n buurtwag vir die Durbanville-sakekern op die been gebring is - juis weens toenemende misdaad in die sakekern. Patrollering sal moontlik reeds hierdie naweek begin.
Volgens kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder, was die lede van die blitspatrollie omstreeks 12:45 besig met misdaadvoorkomingspatrollies nadat hulle inligting ontvang het van ’n verdagte wit Renault Kwid-voertuig wat in die sakekern rondry.
“Hulle het die voertuig in Hoofweg gevind met vier insittendes, dit afgetrek en deursoek. Hulle het afgekom op twee vuurwapens waarvan die reeksnommer afgevyl was, asook 17 rondes ammunisie. Drie Mandrax-tablette is ook gevind,” sê Van Wyk.
Die vier verdagtes van tussen 29 en 36 jaar is in hegtenis geneem en word in die Durbanville-polisieselle op klagte van besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie, en besit van dwelms aangehou. Hulle sal Maandag in die Bellville-landdroshof verskyn.





