Sonde met die bure neem nuwe betekenis aan wanneer jy langs ’n vulstasie woon.
In Beverley Barnard se geval is die sondaar die Caltex-vulstasie in Strandstraat waarop die kompleks waarin sy woon, uitkyk.
Barnard sê haar probleme met die vulstasie kom al jare aan. Die klagtes sluit onder meer in die busse wat daar stop en die motor- en buswassery.
“Rommel word teen die heining opgegaar en matte word oor heinings gehang in sig van die publiek en klante van ander besighede in Bellville,” sê sy.
“Is daar niemand wat sakepersele ondersoek nie – kan almal maar maak soos hulle wil? Die sakeperseel-eienaar moet ’n slag aangespreek word, nie die bestuurder agter die toonbank wat net sy huur betaal nie,” sê sy.
Boonop is daar pal ’n groot geraas van die kompressors waar die motors gewas word.
Barnard doen ’n beroep op die burgemeester om by die perseel in te tree. “Met die ontwikkeling van die perseel is goedkeuring verleen om dit as ’n vulstasie en motorwassery met ’n klein winkel te bedryf – nie wat nou daar aangaan nie,” sê sy.
“Ons klagtes strek al oor jare en daar word zero aandag hieraan gegee. E-posse en klagtes word versprei sonder enige terugvoer en niks word daaraan gedoen nie,” sê sy.
Met TygerBurger se besoek het die eienaar, Mohammed Ebrahim, verduidelik hulle buig agteroor om so min probleme moontlik vir bure te veroorsaak.
Hy sê Barnard vind egter voortdurend nuwe probleme by die vulstasie en hy het al oor die jare verskeie amptenare van die Stad gehad wat by hom kom inspeksies doen het.
Busse word nie in die week oornag daar geparkeer nie, sê hy. Hulle laai ook nie as ’n reël passasiers daar op nie, maar busse wat passasiers op ander plekke, soos die amptelike halte, oplaai, stop daar en mense koop dan by die winkel.
“Ons is nie ’n amptelike laaiplek nie,” beklemtoon hy.
Oor naweke parkeer ’n paar busmaatskappye hul busse op die perseel, maar die bestuurders slaap dan elders. “Hulle pla niemand nie.”
Ebrahim sê die vraag van hierdie buspassasiers na produkte in die winkel is al so groot dat hy ’n ekstra werker op ’n Saterdagmiddag aangestel het om kos voor te sit.
Tydens die besoek, wat gedurende die week geskied het, was daar ’n bus sonder passasiers wat gewag het om gewas te word.
“Hierdie plek is vir besigheid gesoneer,” het Ebrahim gesê. “Ons skep werk.”
Groot veranderings kom
Hulle gaan ook binnekort die perseel na die Astron-handelsmerk verander, soos reeds oor die land heen gedoen word. Hiervoor moes hy al baie geld opdok.
Eddie Andrews, die stad se adjunkburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir ruimtelike beplanning, het by navraag gesê die besigheid is as ’n algemene onderneming gesoneer. Hy sê die motorwassery word as deel van hierdie sonering toegelaat. Die besigheid mag egter nie passasiers vir busse oplaai nie.
TygerBurger het ook briefwisseling gesien waarin amptenare gesê het hulle het die perseel besoek en het nie op daai spesifieke tydstip geraas waargeneem nie. Stadsamptenare het rommel teen die heining gesien en Ebrahim daarop gewys, wat dadelik sy werknemers beveel het om dit te verwyder.
Oor Barnard se kommentaar rakende mense wat besigheidspersele ondersoek, het Andrews gesê mense is welkom om by Enforcement.C&D@capetown.gov.za te kla.





