Meer as 1 000 plantjies is reeds in die Haasendal-natuurreservaat in Kuilsrivier geplant as deel van ’n projek om die natuurlike en kritiek bedreigde Kaapse Vlakte-sandfynbos (KVSF) te hervestig.
Daar is slegs sowat 15% oor van die plantegroei, wat endemies aan Kaapstad is.
Hiervan word net 1% tans bewaar.
Dr. Caitlin von Witt, botaniese ekoloog van FynbosLIFE, sê hulle doen die projek in samewerking met die Stad Kaapstad en die Botaniese Vereniging van Suid-Afrika.
Dit word deur die Rowland en Leta Hill-trust gefinansier.
Beplanning het reeds in 2021 begin, maar dit het lank geneem om die nodige permitte te verkry.

Op 7 Junie vanjaar is die eerste sowat 500 plantjies geplant en verlede Woensdag 21 Junie nog 800.
“Ons het begin met ’n paar verkenningstogte (na Haasendal) om saad en steggies te kry om plantjies van te kweek by FynbosLIFE se Cape Flats-fynbos-kwekery in Muizenberg.”
Haasendal is een van drie natuurreservate in die noordelike voorstede (saam met Blouberg en die Milnerton-perderenbaan) waar KVSF beskerm kan word. Von Witt sê dit is van spesifieke belang omdat die spesies wat hier voorkom, effens verskil van dié in die suidelike gebiede soos Tokai of Rondevlei.
“Die Serruria aemula var. congesta (aarbeispinnekopbos) is ’n spesifieke variant wat nie meer wild in die natuur voorkom nie. Dit het net in hierdie gedeeltes voorgekom, dus hervestig ons dit hier. Vier jaar gelede is 30 plantjies in Kirstenbosch geplant, nou gaan ons 800 hier plant.”

Von Witt het aan die werknemers van die Stad, studente en ander vrywilligers wat verlede week help plant het, verduidelik hoe die hervestiging werk.
“Ons doen restourasie deur stroke te skep wat bedek is met houtagtige spesies wat langer sal leef.”
Die hoop is dat die stroke uiteindelik met mekaar en met die gedeeltes van die reservaat waar die natuurlike plantegroei nog groei, sal verbind.

David Morris, toesighouer van Haasendal-natuurreservaat, sê die natuurlike fynbos sukkel om te herstel op grond wat voorheen omgeploeg is. Die natuurlike plantegroei het wel in ’n deel van die reservaat, wat nooit bewerk is nie, maar in 2016 vervuil van Port Jackson was, wat verwyder is, tot ’n mate herstel.
Buiten aarbeispinnekopbos is ook individuele plantjies van die kwesbare Leucospermum hypophyllocarpodendron subsp. hypophyllocarpodendron (slangbossie) en die byna bedreigde Serruria fasciflora (speldespinnekopbos) reeds uitgeplant.
Belangstellendes word genooi om te kom help met die uitplant van die plantjies. Dit bied ’n gulde geleentheid om meer van die fynbos te leer.
“Ons sal graag meer vrywilligers uit die omgewing (noordelike voorstede) wil betrek,” sê Von Witt.
- Kontak Von Witt by restorehaasendal@gmail.com as jy belangstel om as vrywilliger by die hervestiging betrokke te raak.






You must be logged in to post a comment.