Van links is Kate Laurie (direkteur), Micia Smit (Mej Junior SA 2021 en D&F-ambassadeur), Michelle Philips (direkteur), Rouchelle Liedeman, Lianie Le Roux (direkteur), en Michelle Gildenhuys Adams (D&F-ambassadeur). FOTO: Desirée Rorke


Die Meksikaanse skilderes en ikoon Frida Kahlo was die inspirasie vir ’n vroueoggend wat onlangs deur die Daniel & Friends Fund aangebied is.

Vroue verbonde aan die organisasie was uitgevat in helder kleure en blomkrone vir die spesiale oggend by Durbanville Hills-wynplaas ten bate van kinders met spesiale behoeftes.

Die organisasie sonder winsoogmerk is in 2014 gestig ter nagedagtenis van Daniel le Roux, wat op die ouderdom van drie weens komplikasies wat met Leigh se siekte verband hou, oorlede is.

“Die fonds is begin om ons eie hartseer te verwerk en om ander mammas by te staan,” sê Lianie le Roux, Daniel se ma en een van die direkteure.

Die direkteure van die organisasie het ’n wonderlike droom – om die platform te skep vir ’n sterker, meer intieme spesialebehoeftesgemeenskap.

Kate Laurie, ’n mede-direkteur, het die vroue toegespeek oor die merkwaardige lewe van Frida Kahlo, wat ondanks siekte en trauma ’n baanbreker vir ander vroue geword het.

“Jy is nie alleen nie. As vroue kan ons ons met haar vereenselwig. Sy was veerkragtig en het haar lewe met kleur uitgebeeld en bo haar omstandighede uitgestyg. Sy was ses jaar lank baie siek weens polio en was ná ’n ernstige busongeluk op 25 vir drie maande lank bedlêend. Dit was in dié tyd dat sy vir die eerste keer ’n kwas opgetel het,” vertel Kate.

As gevolg van haar siekte en beserings kon Kahlo ook nie kinders kry nie en sy het talle miskrame gehad.

“Temas van haar kuns waarin sy haarself uitgebeeld het, het gedraai om die selfbeeld, die liggaam en die dood. Sy het nie aan die standaarde wat van haar verwag is, voldoen nie en het skoonheidstandaarde van die dag uitgedaag. Haar ikoniese unibrow was ’n voorbeeld hiervan.”

Kahlo het eens gesê “the most important part of the body is the brain”.

Die gaspreker Rouchelle Liedeman het mense met ’n kragtige boodskap bemoedig, wat ook haar eie kwesbaarheid ontbloot het.

“Ons is almal gebroke, want die lewe gebeur met ons almal, maar dis in ons gebrokenheid dat ons met ander kan vereenselwig. Dis die dinge wat jou maak wat jou ook kan breek; die dinge wat jy bo jouself en God plaas.”

Die geld wat ingesamel is, sal gebruik word om later vanjaar ’n ekstra-bederf-Kersfeespartytjie te hou vir die kinders verbonde aan die organisasie.

Die organisasie hou ook op 11 November weer vir die eerste keer sedert die pandemie sy jaarlikse Touching the Heart gala-aand.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article