Joanita Richter met die toekenning wat sy onlangs ontvang het.


’n Vrou van Eersterivier is onlangs vereer vir die twee boeke wat sy verlede jaar gepubliseer het.

Joanita Richter se twee boeke, Verse vir ’n plaaskind en Emosies in woorde is onlangs met die AfriCAN Honoree-toekenning vereer.

Richter sê hoewel sy nie die geleentheid self in Johannesburg kon bywoon nie, het vriende die dag vir haar spesiaal gemaak deur haar na haar ou laerskool te neem. “Dit was baie spesiaal om weer te kon staan op die perseel waar ek Afrikaans leer lees en skryf het. Ek het ’n paar dae later my toekenning ontvang en my seun kon langs my staan en dit is hoe ek dit wou hê. Hy is my grootste ondersteuner,” sê Richter.

Sy is ook in Junie vanjaar vereer as Temadigter van die Jaar (2022) vir haar bydrae tot die Padlangs-boek.

“Ek voel baie emosioneel en gelukkig oor die toekenning. My twee boeke is geskryf in ’n moeilike tyd in my lewe waarin ek ernstig siek was – in ’n tyd waarin dokters nie antwoorde gehad het nie en waar my geloof my heel anderkant laat uitstap het. My boeke is tydens daardie siekte geskryf en dit is hoekom hierdie toekenning so spesiaal is. Dit is wat die Here kan doen – ons oplig en weer laat loop,” sê Richter.

Sy het die grootste lof vir haar man, seun en uitgebreide familie wat haar ondersteun. “Ek is dankbaar vir elkeen se bydrae in my lewe en skrywersloopbaan. Die toekenning moet ander bemoedig om ook hul talente uit te lewe. Moenie toelaat dat boelies jou probeer onderkry nie en moet jou nie blind staar teen jou omstandighede nie. Jy kan enigiets bereik as jy net glo en vertrou,” sê sy.

Sy sê ook die toekenning beteken baie vir haar loopbaan. “Mense reik uit na my en daarvoor is ek baie dankbaar. Veral as ek ’n glimlag op ’n kind se gesig sien, weet ek ek skryf om ’n verskil te maak. Ek is tans by verskeie biblioteke betrokke en is dankbaar vir elke geleentheid wat na my kant toe kom.”

Bel Richter by 078 028 7523 vir meer inligting oor haar boeke en skryfwerk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article