Vrou van Durbanville vier 103 jaar

Hildegard Serfontein is op haar 103de verjaarsdag met ‘n verjaarsdagtee by die La Gratitude-aftreeoord in Durbanville verras. By Serfontein is twee van haar drie seuns, Fritz Ferreira (links) van Somerset-Wes en dr. Johann Ferreira (regs) van die Vrystaat.


Sy het die Here al gevra wat Sy plan is met haar dat sy só oud word, het ’n inwoner van die La Gratitude-aftreeoord in Durbanville verlede Donderdag gesê met die viering van haar 103de verjaarsdag by die aftreeoord.

Hildegard Serfontein is op haar 103de verjaarsdag

Hildegard Serfontein is op haar 103de verjaarsdag met ‘n verjaarsdagtee by die La Gratitude-aftreeoord in Durbanville verras. By Serfontein is twee van haar drie seuns, Fritz Ferreira (links) van Somerset-Wes en dr. Johann Ferreira (regs) van die Vrystaat.

Hildegard Serfontein is in 1920, twee jaar na die einde van die Eerste Wêreldoorlog en die Groot Griep (Spaanse griep) in Tulbagh gebore en het daarna nie net die Tweede Wêreldoorlog, die Tulbagh-aardbewing in 1969 en die Covid 19-pandemie in haar 100ste jaar in 2020 oorleef nie, maar lyk boonop nie ’n dag ouer as 80 nie. Sy is al 33 jaar ’n inwoner van die La Gratitude-aftreeoord.

Verheerlik

“Die Here se boodskap aan my was dat ek Hom moet verheerlik en Sy boodskap moet uitdra aan ander. Dis so wonderlik dat die Here vir my as nietige mens in Sy Koninkryk gebruik om ’n getuie te wees,” het sy in ’n kraakhelder stem in ’n toespraak by ’n spesiale verjaardagtee gesê.

Verskeie inwoners – meeste in hul tagtigs en negentigs – en haar twee seuns was onder die gaste. ’n Koek is deur die Palm Grove Spar in Durbanville vir die geleentheid geskenk.

“Dis die heerlikste verrassing; ek het niks hiervan geweet nie, en dis ’n teken van die liefde wat ek in my lewe ontvang. Om ’n kind van die Here te wees, is die grootste vreugde in my lewe,” het sy gesê. 

Op ’n vraag van TygerBurger wat haar geheim vir haar lang lewe is, het sy gesê “is seën en die genade van die Here”.

Positiewe denke

Positiewe denke en ’n gesonde lewenstyl het ook bygedra, sê sy. Sy het nog tot op 86 jaar tennis gespeel en gereeld geswem – later in die swembad gestap. Sy het haar ook met musiek, veral klassieke musiek en koormusiek, en blomme omring.

Serfontein, ’n musiekonderwyseres van beroep in die noordelike voorstede van Kaapstad, was op haar dag ’n kranige beoordelaar van blommeskoue en was sedert 1963 ’n lid van en beoordelaar vir die Wes-Kaapse Blommerangskikkingsvereniging, asook erelid sedert 2010. Sy het ook gereeld internasionaal deelgeneem.

Sy is ook meer as 80 jaar, sedert 1941, ’n intekenaar van Die Burger en lees nog daagliks haar koerant. Sy het in 1938 gematrikuleer, maar eers met haar 50 jaar-reünie besef sy was in haar matriekjaar die dux-leerder.

Sy het drie seuns, dr. Hein Ferreira (77) van Engeland, dr. Johann Ferreira (75) van Wepener in die Vrystaat en Fritz Ferreira (66) van Somerset-Wes, asook agt kleinkinders en vier agterkleinkinders.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article