Behalwe vir boetes wat van geen nut is om dit te verhoed nie, is daar nie veel wat inwoners kan doen wanneer dromkrappers met hul honde sonder leibande op asdromdag die strate invaar nie.

Hoewel die Stad Kaapstad sê hy nie sal skroom om boetes uit te reik aan dromkrappers met los honde nie, laat hulle na om te verduidelik hoe sulke boete-kennisgewings aan dromkrappers waarvan die meeste nie ’n vaste adres het nie, uitgereik en verhaal word.

Dit is ook geen troos vir die kat-eienaar Lisa Myburgh van Ruwari nie wie se kat onlangs deur vier sulke honde doodgebyt is.

Myburgh sê haar katte is soos kinders vir haar.

“My hart is ongelooflik seer. Verlede Maandag, soos elke Maandag, is ons asdromdag en een dromkrapper het dit goedgedink om sy vier honde sonder leibande saam met hom te bring om in die dromme te krap,” het sy verlede week aan TygerBurger vertel.

“Hulle het my een kat, wat elke oggend in die sonnetjie lê, vasgekeer en hom beetgekry en sy nek gebreek. Hy is opslag dood. Ek was ’n paar sekondes te laat om hom te red, want ek het nog geslaap en is wakker gemaak deur die honde se geraas.”

Die insident het om 06:20 plaasgevind.

“Ek het my veiligheidsmaatskappy gebel; hulle kon hom nie vind nie, maar ek en my buurvrou het gery en hom gekry.

“Ek het hom gevra om asseblief nie meer sy honde saam te bring nie, of om hulle aan leibande te hou, maar het arrogante kommentaar terug gekry van hom,” sê sy.

Myburg het ook die Stad se wetstoepassers geskakel.

“Hulle het my meegedeel dat as ek hom weer met sy honde sien, ek dadelik moet skakel, maar dat hulle vir eers hoër prioriteit klagtes het om af te handel.”

Volgens Myburgh het hulle haar ook meegedeel dat hulle net die honde sal wegvat.

“Toe ek dit vir die man sê, toe antwoord hy my hy gee nie om nie, want daar is duisende honde waarvan hy kan kies om saam te bring. Niks sal my kat terugbring nie, maar ek wil graag verhinder dat ander diereliefhebbers so ’n traumatiese ondervinding gespaar word.

“Hoe is dit aanvaarbaar dat die dromkrappers mag doen net wat hulle wil, selfs jou kat doodbyt, maar as inwoners in die straat stap met ’n hond sonder ’n leiband, word ons aangepraat, of selfs beboet?”

Volgens Wayne Dyason, woordvoerder van die stad se wetstoepassers moet honde te alle tye aan leibande wees in die openbaar. Hy raai inwoners aan om die noodsentrum by 107 van ‘n landlyn of 021 480 7700 van ’n selfoon te skakel om die oortreding te rapporteer.

“’n Kennisgewing kan vir die eerste oortreding uitgereik word en daarna ’n boete van R500 indien die eienaar weer oortree,” sê hy.

“Verder is dit ook ’n oortreding ingevolge die verordening oor die aanhou van diere wat bepaal dat “geen persoon enige dier mag aanspoor, aanhits of uitlok om enige persoon of dier aan te val, of bang te maak of deur nalatigheid te versuim om te voorkom dat enige dier ’n mens of ander dier aanval. ’n Boete van R2 500 kan uitgereik word en in sommige gevalle kan die dier geskut word,” sê hy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article