’n Vrou van Ruwari in Brackenfell is verlede Vrydagoggend met ’n mes in haar arm gesteek toe ’n inbreker haar in haar huis oorval het.
Sy het om 10:34 ’n benoude hulpkreet na ’n plaaslike WhatsApp-buurtveiligheidsgroep gestuur.
C-Max Sekuriteit het die stemnota gehoor en dadelik ’n reaksie-eenheid en paramedici uitgestuur.
“Die vrou moes haarself verdedig in die aanval. Toe ons daar aankom, het ons haar by die voordeur gekry waar sy nog met die mes in haar arm gestaan het. Sy was baie getraumatiseerd.
“Haar wond is verbind en sy is per ambulans na ’n hospitaal vervoer,” het C-Max in ’n verklaring op sosiale media gesê.
Volgens die Brackenfell-polisie het die rower deur die motorhuis toegang tot die huis verkry en later deur die skuifdeur te voet gevlug nadat die vrou aan hom gesê het haar man is amper by die huis.
“Sy het by haar naaimasjien gesit en werk en toe sy omkyk, toe staan hy agter haar. Hy het kontant geëis en haar met ’n mes gesteek,” sê kapt. Erica Crous, polisiewoordvoerder.
Niks anders is uit die huis gesteel nie.
Die Brackenfell-polisie moedig inwoners aan om by hul plaaslike buurtwag aan te sluit om sodoende ingelig te bly oor misdaad in hul area.
“Inwoners moet ook verdagte mense wat in die gebiede rondloop by die polisie of buurtwag rapporteer,” sê Crous.





