‘n Vrou het wonderbaarlik oorleef nadat sy eergisteraand omstreeks 20:00 naby Bonteheuwel-stasie in ‘n stormwaterdrein geval het.
Anoniem
Die vrou, wat verkies om anoniem te bly, het ná die val vir sowat ‘n kilometer in stikdonkerte en in nat toestande ondergronds gekruip op soek na hulp. By ‘n volgende gat het sy om hulp geskree en sekerheidspersoneel het haar noodkrete gehoor.
Volgens die plaaslike raadslid, Angus McKenzie, is hy oor die voorval ingelig en het hy nooddienste ontbied, wat toe die vrou uit die stormwaterdrein verwyder het. “Sy is in die hospitaal en ek vermoed sy moet geopereer word. In hierdie stadium weet ons nie hoe sy in die drein beland het nie, aangesien dit afgesper was. Volgens haar het sy ingeval en besef sy is in die moeilikheid. Daarna het sy begin bid, want sy haat water en swem glad nie,” sê McKenzie.
Volle herstel
McKenzie sê hy bid dat die vrou ten volle sal herstel, maar hy doen ‘n beroep op inwoners om versigtig te wees. “Prasa werk nou daar en die gebied is afgekordon, dus wil ek vra dat mense versperrings moet respekteer en net in uitgemerkte gebiede beweeg,” sê McKenzie.
READ ALSO: Mayor calls for investigation into gang links in Central Line contracts




