Die Tygervallei-biblioteek.


Die goeie nuus dat hul geliefde instelling vir minstens nog ’n jaar gaan oopbly, beteken nie die Vriende van die Tygervallei-biblioteek gaan vir ’n oomblik ophou om die kwessie te monitor nie, waarsku hulle. 

Vreugdevure het die afgelope week in een kamp hoog gebrand nadat die Stad Kaapstad die besluit, wat op Dinsdag se burgemeesterskomiteevergadering geneem is, aangekondig het.

Die kwessie van die biblioteek se sluiting is al sedert die aanvanklike aankondiging aan die einde van Desember ’n twispunt waaroor TygerBurger meermale berig het.

Met die aanvanklike aankondiging het talle inwoners woedend gereageer.

Party het gesê as senior burgers word hulle weekliks daar afgelaai. 

Ander het die biblioteek se personeel geprys en gepraat oor die gerief daarvan om binne ’n winkelsentrum die biblioteek te besoek. Kinders het vertel hoe dit hul veilige hawe is.

Die Stad het egter vasgeskop en gesê hul befondsing weens die Covid-19 pandemie het verminder en dat hulle daarom hul eksterne huurkontrakte wil staak.

Op ’n openbare vergadering met inwoners, wat begin Maart gehou is, het dit egter gou duidelik geword die Stad het die inwoners se woede onderskat.

Biblioteekgebruikers het die Stad daarvan beskuldig dat hy nie die regte kanale gevolg deur vooraf ’n openbare deelnameproses te hou nie.

’n Groep van hierdie verbruikers het toe saamgekom om die Vriende van die Tygervallei-biblioteek te stig.

Onder die lede is oud-hoof bibliotekaresse Ilze Swart, en twee regskenners wat gratis vir die groep optree – Frank Raymond as prokureur en Louise Ferreira as advokaat.

Die groep het dadelik aan die werk gespring en regsdokumente aan die metro bedien. Dit het daarop gedui dat hulle die kwessie voor die Wes-Kaapse hooggeregshof sal voortsit indien daar nie ’n nuwe openbaredeelnameproses plaasvind nie.

Die Stad het toe gesê hulle win regsadvies in en sal nie aan die einde van April aan die winkelsentrum kennis gee nie.

Die saak het daarna groot mediablootstelling gekry en Rapport, kykNET Verslag en Die Burger het ook daaroor verslag gedoen.

Verlede week het die Stad by sy raadsvergadering egter bevestig sy huurkontrak met die winkelsentrum gaan vir ten minste die volgende jaar oop bly.

“Die Vriende is baie bly daaroor dat die biblioteek nie gaan sluit nie danksy sy pro-aktiewe optrede. Ons vraag is egter hoekom is die huurkontrak slegs vir ’n jaar hernu en nie vir die gebruiklike drie jaar nie. Beteken dit die Stad gaan die jaar gebruik om verdere pogings aan te wend om dit te probeer sluit? Hulle kan verseker wees dat die Vriende enige pogings om dit te doen aktief gaan monitor en gaan teenstaan,” volgens ’n mediaverklaring deur die Vriende.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article