Grant Twigg, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir stedelike afvalbestuur, by die rommel.FOTO: Richard Roberts


Drie ton rommel is onlangs deur lede van die Voortrekkerweg-stadsverbeteringsdistrik (VRCID) in ’n enkele dag in Bellville en Parow versamel.

Die projek vorm deel van ’n bewusmakingsveldtog deur die VRCID en is aangepak in samewerking met die Stad Kaapstad, wat die rommel agterna na ’n stortingsterrein in Vissershok langs die N7 vervoer het.

Verlede Saterdag 16 September was ook Wêreld-opruimingsdag en dié opruimingsprojek is aangepak ter viering van die dag.

Die rommel is verlede Vrydag 15 September vroeg in die parkeerterrein van Radio Tygerberg 104FM in Fairfieldstraat in Parow gegooi om aan die publiek te toon wat in ’n dag in dié gebied versamel kan word.

Stad verwelkom vennootskap

Grant Twigg, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir stedelike afvalbestuur, sê hulle waardeer die vennootskap tussen die organisasies.

Hy het ná afloop van ’n radio-onderhoud gesê die rommel wat versamel is, hoort nie op straat nie, maar eerder op die stortingsterrein.

“Ons waardeer die samewerking met die VRCID en Radio Tygerberg. Dit is wat ons wil hê; ons wil hê ons gemeenskappe moet bymekaarkom – organisasies, skole, kerke en almal, want die stad is ons almal se stad. Dis ’n pragtige stad en ons wil dit so skoon as moontlik hê,” sê Twigg.

Die VRCID is tien jaar gelede in die lewe geroep met die doel om juis die Stad te help, om sodoende Kaapstad ’n beter plek te maak, sê Hardus Zevenster, uitvoerende hoof van Radio Tygerberg en voorsitter van die VRCID.

“Die Stad het net soveel hulpbronne beskikbaar. Wat die VRCID doen, is ’n bykomende diens.

“Die tragedie vir my is die drie ton rommel wat hier buite lê; dis bo en behalwe wat die Stad verwyder. So dit is rommel wat elke dag deur die VRCID opgetel word, wat fisies in die strate lê. As die VRCID nie daar was om die strate te vee en op te tel nie, kan jy dink hoe dit sou gelyk het?

“Ek wil ’n beroep doen op mense: asseblief, hou op mors. Dit sê baie van jou eie karakter, as mense heeltyd en aldag goed op straat rondgooi en verwag dat iemand anders dit moet skoonmaak.

“Ons wil hierdeur graag prakties demonstreer hoe dit fisies lyk, elke dag. Nou kan jy dink hoe dit sou gelyk het as daar nie iemand was wat dit opgetel het nie. Kom ons maak skoon agter ons. Dit is vir my ’n goddelike beginsel,” sê Zevenster.

VRCID sê in ’n verklaring die veldtog was ’n poging om die aandag van sy gemeenskap te vestig op die hoeveelheid rommel wat daagliks in strate opgetel word en om die klem te plaas op die noodsaaklikheid daarvan dat die publiek moet saamwerk om die omgewing skoon en leefbaar te hou.

Tonne rommel in een jaar

Tussen Julie 2022 en Junie 2023 het die VRCID ’n enorme 813 ton rommel ingesamel.

Dit is gelykstaande aan 162 647 sakke rommel. Die prestasie sou nie behaal kon word sonder die hulp van die diensverskaffer, Securitas, en toegewyde vennoot, Mould Empower Serve (MES) nie, wat ’n bykomende bydrae van 89 ton tot hierdie indrukwekkende syfer gelewer het, lui die verklaring.

“Dit is heeltemal onaanvaarbaar dat mense so rommel strooi en verwag dat ander mense dit moet optel. Dit is nie net individue wat rommel strooi nie, maar ook besighede binne die VRCID, veral binne die Bellville-stadskern,” sê Derek Bock, hoof- operasionele bestuurder van die VRCID.

Bock doen verder ‘n beroep op gebou-eienaars om seker te maak hul huurders strooi nie rommel nie. “Hulle kan nie net terugsit en hul huur ontvang en dink rommelstrooi deur hul huurders is aanvaarbaar nie,” sê hy.

Roger Cannon, wyksraadslid, het ook verlede week se verrigtinge bygewoon. “Dit is rommel wat langs die straat gevind is. Dit lyk nie goed as ons ’n gebied het wat met rommel bestrooi is nie. Mense kon dit in die dromme gegooi het, in plaas daarvan dat iemand anders agter hulle skoonmaak,” sê Cannon.

Twigg het verder gesê die rommel wat verwyder is, demonstreer wat lede van die publiek daagliks doen. “Mense stap in die straat en hulle gooi net hul stukkies papier en hul leë blikkies weg, en verwag dan dat iemand anders dit opruim. Wêreld-opruimingsdag is meer as net een dag.

“Dit moet eintlik ’n gewoonte raak onder mense. Moet nie rommel strooi nie; plaas dit eerder in ’n vullisdrom. Almal moet net hul dromme gebruik. Daar is vullisdromme oral in die stad.

“Elke persoon moet net sy of haar rol speel,” sê Twigg.

Soortgelyke projekte is in Lakeside en op die stad se strande aangepak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article