Die vragmotor het verlede Woensdag sy sleepwa verloor.FOTO: District Watch


Verkeer in Giel Basson-rylaan (M12) is verlede Woensdag ontwrig toe ’n vragmotor se sleepwa by ’n stel verkeersligte losgekom het.

Die voorval het op die hoek van die M12 en Bosmansdamweg (M8) gebeur.

Die private sekerheidsmaatskappy District Watch was daar en het die voorval op hul sosialemedia-blad gedeel.

Die Stad Kaapstad se verkeersdienste was ook op die toneel, maar het by woorde van ’n woordvoerder aangedui dat hulle nie die voorval op rekord het nie.

Volgens die inskrywing van District Watch het hulle ’n oproep ontvang waarin aangemeld is dat ’n vragmotor sy sleepwa verloor het. Van hul beamptes is uit na die toneel. Met hul aankoms het hulle die vragmotor en sleepwa in die middel van die pad opgemerk – met die sleepwa wat losgebreek het van die vragmotor toe dit glo weggetrek het.

’n Insleepdiens is gekontak om die voertuig te verwyder.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article