Voormalige werkgewer van bouer het stories wat ‘nekhare kan laat rys’

Jan van Niekerk


Die voormalige werkgewer van die bouer wat glo talle mense die josie in het, sê hy het genoeg stories om ’n mens se nekhare te laat rys.

TygerBurger het onlangs oor Jan “Ian” van Niekerk berig nadat minstens vyf mense vorendag gekom het om te sê dat Van Niekerk werk by hul huis gedoen het, wat van slegte gehalte of onvoldoende was (“Mense praat ‘wolhaarstories’, sê Kaapse bouer wat glo talle indoen, 30 Augustus”).

Al die klaers het gesê Van Niekerk het glo in ’n sekere stadium van die bouproses net nie meer opgedaag nie en al vyf moes nuwe bouers inkry om die werk te laat oordoen.

Van Niekerk ontken hierdie bewerings ten sterkste en meen die koerant fokus net op die negatiewe.

Sy voormalige werkgewer, wat anoniem wil bly om sy sakebelange te beskerm, sê Van Niekerk het vanaf Februarie 2022 vir ongeveer ’n jaar vir hom gewerk.

Dié werkgewer bedryf ’n konstruksieonderneming in Stikland.

Hy voel dit is belangrik om ander te waarsku om nie hul geld aan mense soos Van Niekerk te gee nie. “Hy moet dit net nie met iemand anders doen nie. Hulle moet hom vang en toesluit want dan kan hy dit nie meer doen nie.”

Rooi ligte

Hy sê hoewel hy nooit probleme gehad het met Van Niekerk wat laat opgedaag het nie, het hy ná ’n paar maande ander probleme begin ervaar.

Die eerste “rooi lig” was toe hy vir Van Niekerk gestuur het om die maatskappy by ’n projek in Delft te gaan verteenwoordig, waar hulle gesubkontrakteer is om ’n dak op te rig.

Enkele weke later het die kontrakteur hom gebel en gevra wanneer hulle die projek gaan klaarmaak.

Hulle het immers al ’n deposito van R85 000 betaal, het hy gesê.

Die voormalige werknemer was uit die veld uit geslaan omdat hulle nooit die bedrag ontvang het nie.

By nadere ondersoek het hy uitgevind Van Niekerk het sy eie rekeningnommer verskaf en die geld daarin betaal.

Die voormalige werknemer het dit as ’n menslike fout hanteer.

Hy het die volle bedrag aan die kontrakteur terugbetaal. Hy het R25 500 by Van Niekerk verhaal en toe ’n getekende betalingsreëling aangegaan waarvolgens hy maandeliks die orige R53 760 stuk vir stuk vanaf sy salaris sou terugbetaal. Hy het egter dikwels gesê hy kon nie daardie maand die bedrag betaal nie.

TygerBurger het hierdie kontrak en daaropvolgende state en fakture gesien.

Teen einde Julie vanjaar het Van Niekerk egter R29 245,50 geskuld en het hy steeds nie die bedrag betaal nie.

Sertifikate ‘vervals’

Die voormalige werkgewer sê werk het soos normaal voortgegaan totdat sy maatskappy ’n groot tender van miljoene rande vir bouwerk in Montague Gardens ingedien het. As deel van die tender moes Van Niekerk sekere kwalifikasies hê, wat die maatskappy waarop getender is, ondersoek het.

Hulle kom toe terug na die oud-werkgewer en sê Van Niekerk het net twee van die nege kwalifikasies wat hy gesê het hy het en waarvoor hy sertifikate ingedien het. Een was dat hy in 2021 ’n asbeswerksessie bygewoon het en nog een van 2021 dat hy op hoogtes kan werk.

Ander, insluitende brandbestryding en noodhulp, was alles vals.

Van Niekerk sê hierdie inligting is verkeerd. “Daar was ’n (dissiplinêre) hearing (en als). Dit is klomp crap. Ek glo nie hieraan. Hoekom het jy dit nodig? Die plek by wie ek die kursus gedoen het, het van een kantoor na ’n ander geskuif. Hulle het die data op hul servers bietjie verloor,” het hy reageer.

Die onderneming wat die sertifikate uitgereik het, het nie op herhaalde versoeke van TygerBurger gereageer nie, maar het dit bevestig in e-posse tussen hulle en die voormalige werkgewer, wat die koerant onder oë gehad het.

Steierwerk

Die gort was gaar. “Toe is ek nou gatvol,” sê die voormalige werkgewer.

Hy is na Van Niekerk se huis, waar hy van sy maatskappy se steierwerk gekry het. Hy sê dit is onmiskenbaar omdat dit ’n sekere kleur geverf is. Hy het ook foto’s daarvan aan die koerant verskaf.

Hy het Van Niekerk van diefstal beskuldig en ’n saak by die polisie aanhangig gemaak. Hy het sy steierwerk opgelaai en teruggeneem.

Van Niekerk ontken dié bewering egter teen sterkste en sê dit was nie die oud-werkgewer s’n nie. Hy sê ook hy het net “een been vir hom gegee sodat hy kan f*k off”.

Die voormalige werkgewer sê hy wil net aanbeweeg. “Ek sal niks (geld) terugkry nie.”

Dit ontstel hom baie dat mense steeds ingedoen word. “Hy doen dit aan vulnerable mense,” sê hy.

Kapt. Aubrey Morwenyane, woordvoerder van die Bellville-polisiekantoor, het bevestig ’n saak is aanhangig gemaak, maar sê die saak is van die rol af geskrap omdat die hof meen dit is siviel van aard is en nie krimineel nie.

TygerBurger het al die bewerings per e-pos en telefonies aan Van Niekerk gestel. In sy eerste oproep het Van Niekerk gesê “almal wil (die voormalige werkgewer) d*nder oor geld. Hy moet oor sy skouer loer. Ek het nie tyd vir daai man nie.”

In ’n opvolgoproep Vrydag het hy gesê: “Dametjie, jy kan met my prokureurs praat. Jy het valse informasie. Hoekom publiseer jy net die negatiewe?”

Toe hy gevra is wie sy prokureurs is, het hy gesê TygerBurger moet self uitvind. “Jy is ’n goeie joernalis; jy weet wat om te doen.” Sondag het hy gesê prokureurs werk nie oor ’n naweek nie en teen druktyd het geen regspersoon die koerant gekontak nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article