Minstens twee polisiekantore in TygerBurger se verspreidingsgebied is weer onder die voorstes wat misdaad betref.
Bheki Cele, die minister van polisie, het verlede week die kwartaallikse misdaadstatistieke bekend gemaak. Die polisiekantore in Delft en Mfuleni is onder die voorste tien
Op die algehele lys vir misdade aangemeld, is Delft elfde en Mfuleni twaalfde. Met kontakmisdade is Mfuleni in die vyfde plek.
Wanneer dit kom by moorde, is Delft met 81 moorde in die tweede plek nasionaal, en Mfuleni in die vyfde plek, met 57 moorde.
In die afdeling vir seksuele misdade is Delft derde en vir verkragting vierde.
Reggie Maart, voorsitter van die Blue Downs-polisiegroepering se gemeenskapspolisiëringsforums, sê misdaad sal nie daal in plekke soos Delft terwyl die infrastruktuur verouderd is nie. “Toe Delft in die 1980’s ontstaan het, was hier net 50 000 inwoners. Vandag is hier meer as 200 000 inwoners van verskillende agtergronde. Dit is presies nog dieselfde polisie-infrastruktuur as daardie jare en dit is dus moeilik om suksesvol te wees. In Delft is vyf sektore, maar net ses bakkies. As die een bakkie nog in een sektor is, dan het ’n misdaad al weer in ander sektore plaasgevind. Elke sektor kort minstens ses bakkies om suksesvol in die bekamping van misdaad te wees,” sê Maart.
Maart sê een van die ander probleme is die grense. “’n Ou uit Belhar stap oor Stellenbosch Arterial en skiet iemand in Delft. Iemand uit Bonteheuwel pleeg moord, gaan tronk toe en kom uit. Hy is nie meer welkom in sy eie gemeenskap nie, maar sy vriende akkommodeer hom in Delft. Hier gaan hy voort met sy misdade sonder dat iemand sy agtergrond ken. Die grootskaalse geweld het ook gemaak dat inwoners hul huise vir ’n appel en ’n ei verkoop. Ek het onlangs gehoor van een bendeleier wat sommer tien huise vir hom en sy groep gekoop het,” sê Maart.




