‘n Dankofferfees is die afgelope Sondag by die Volle Evangelie Kerk van God, Lewende Woord in Parow gehou om drie dekades van sendingwerk in Afrika deur dié gemeente en sy leier te herdenk.
Die gemeente het op 5 September 1995 met die sendingprojek begin onder leiding van dr. Raymond Lombard, kerkleier.
Trapfietse is aangekoop en aan predikers, evangeliste en sendelinge in Afrika geskenk om die hele evangelie aan inwoners te versprei.
Duisende goeie fietse is reeds geskenk, sowel as motorfietse en voertuie.
Lombard het ook in meer as 54 Afrikalande predikers, evangeliste en sendelinge opgelei.
Op Sondag 7 September het die gemeente ‘n dankofferfees gehou om die geleentheid te herdenk. Van die gaste wat die besondere en uitsonderlike geleentheid bygewoon het, sluit in dr. Peter Thomas van Duitsland en velddirekteur van Sending vir Afrika, dr. Takalani Mufamadi, ondermoderator van die Volle Evangelie Kerk in Suid-Afrika, asook Biskop Alton Carter van die Wêreldraad van Sending vir die Church of God, World Missions Cleveland, Tennessee in die VSA.





