’n Voetganger is dood nadat sy in Plattekloof Glen deur ’n motor getref is.

Quinton Leon, ’n woordvoerder vir die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste, sê hul dienste is Maandag (30 September) om 16:05 van die voorval in Giel Basson-rylaan in Plattekloof Glen in kennis gestel.

Die voorval het naby die brug oor die N1-snelweg plaasgevind.

“Een van ons brandweerwaens het die toneel bygewoon waar ’n volwasse vrou getref is,” sê hy.

Die Wes-Kaap-regering se Metro EMS-ambulansdiens het die vrou behandel. “Die vrou is op die toneel dood verklaar.” Ineke van Huyssteen, ’n woordvoerder vir die ER24-ambulansdiens, het bevestig dat hul dienste ook op die noodoproep reageer het.

“Metro EMS het egter die pasiënt behandel,” sê sy. Die Netcare 911-ambulansdienste, die polisie, lede van die plaaslike buurtwag en die private veiligheidsmaatskappy District Watch  was ook op die toneel.

Leon sê niemand anders is beseer nie en die toneel is aan die polisie oorhandig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article