Die Stad Kaapstad beplan ‘n langtermynoplossing vir die Settlers-voetbrug wat leerders van die Laerskool Vredelust en die Hoërskool Settlers ‘n oorgang te voet oor Mike Pienaar-boulevard in Boston bied.
Die Stad Kaapstad se direktoraat vir stedelike mobiliteit het Donderdag 13 Maart in ‘n mediaverklaring aangedui dat met tydelike herstelwerk aan die voetbrug begin sal word.
Die herstelwerk sal na verwagting tussen Maandag 24 Maart en Vrydag 9 Mei plaasvind.
‘Leerders ontduik verkeer’
Intussen is die brug gesluit om die veiligheid van die voetgangers en leerders te verseker, maar ouers van albei skole kla van kommer oor leerders se veiligheid wat dié besige paaie op pad skool toe sonder voetoorgange in die gebied moet oorsteek.
“Die leerders steek die besige paaie oor en moet letterlik die verkeer ontduik om by die skool te kom,” sê Louisa Hall, hoof van die Hoërskool Settlers.
Rob Quintas, die burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, sê egter die Stad verstaan die belangrikheid van hierdie brug en hoe dit ook die lewens vir leerders van beide die laer- en hoërskole in die gebied vergemaklik.
Maar Hall meen dit is eerder broodnodig om die leerders se veiligheid in die tussentyd te verseker.
Bystand van verkeersdienste
“Ons is baie dankbaar vir die aandag wat die kwessie van die Stad verkry. Tog bly daar kommer oor die saak – 9 Mei is nog baie ver. Die Stad se verkeersdienste het wel aangebied om soggens voor skool bystand te bied om te sorg dat leerders die pad veilig oorsteek. Maar die ouers vertel my dit het sowat twee dae geduur, en daarna opgehou. Dié reëling het ook nie voorsiening gemaak vir die verdaging van leerders smiddae ná skool nie,” sê sy.
Ongelukkig, sê Quintas, is die brug gevandaliseer en groot dele van die relings is gesteel. “Dit het die strukturele integriteit van die brug in gedrang gebring, en vir veiligheidsredes kon ons nie die brug oop hou nie. Dit is ons bedoeling om vandeesmaand ‘n kontrakteur vir die onmiddellike tydelike herstelwerk aan te stel.”
Quintas verduidelik sodra die brug veilig is vir heropening, sal die paaie-infrastruktuurbestuursafdeling sekere ontwerpsaspekte van die brug herevalueer om ‘n permanente oplossing te implementeer wat openbare veiligheid sal verseker, terwyl dit die integriteit daarvan teen toekomstige vandalisme behou.
“Ek wil die gemeenskap bedank vir hul geduld en begrip terwyl die brug gesluit bly,” het Quintas ten slotte gesê. Navrae oor ‘n waarborg tot bystand van verkeersdienste om leerders te beveilig is na die Stad gestuur. Terugvoer is nie betyds teen druktyd ontvang nie.





