As erelid van die Vroue-Landbouvereniging Kaapland (VLV) se Brackenfell Varings is Lydia Brink onlangs deur die tak vereer op haar 95ste vejaarsdag, wat sy op 17 Julie met ’n stylvolle verjaarsdagtee by die Klaradyn-aftreeoord gevier het.

As ’n matriarg van die ou dorp, woon Lydia al 73 jaar in Brackenfell en die afgelope agt maande in die Klaradyn-aftreeoord se versorgingseenheid.

Lydia se oorlede man, Japie Brink, ’n onderwyser aan die Hoërskool Bellville, was een van die vyf Brink-seuns wie se oupa gedeeltes van die oorspronklike plaas waarop Brackenfell vandag staan, in die 18de eeu besit het.

Elke seun het destyds ’n stukkie van die plaas met ’n huis daarop gekry in ’n tydperk toe Brackenfell merendeels ’n landelike gebied was.

Uit hul huwelik is twee dogters en ’n seun gebore.

Sy het in 1949 op die ouderdom van 20 by die VLV aangesluit en was vir 75 jaar aan die organisasie verbonde. Op 95 is sy net so oud soos die vereniging, wat in 1929 in die lewe geroep is om vroue op te hef.

Besondere vrou

Haar eweknieë in die VLV beskryf haar as ’n besonderse vrou met ’n sterk persoonlikheid en ontsettende deursettingsvermoë.

Sy het destyds by die VLV aangesluit om haar huishoudelike kuns te verbeter, sê sy. “Hier kon ek leer wat my ma my nie verder kon leer nie. Daar was nog nooit ’n gekoopte koek in my huis nie en ek het my man se hemde en kinders se klere self gemaak. Dit was wonderlik. Later jare het ek ook laslappie-baadjies vir my kleinkinders gemaak.”

Lydia was ook ’n kranige tennisspeler by die Brackenfell-tennisklub, waar sy talle praatjies oor gesondheidsonderwerpe vir klublede gereël het.

In ’n vroeëre onderhoud moedig Lydia jong vroue aan om by die VLV aan te sluit.

“Daar is nie meer jonggetroude vroue wat aansluit nie, want die moderne vrou werk vandag. Maar ek kan dit vir enige jong vrou aanbeveel om aan te sluit. Jy leer die heeltyd.”

Die Varings se René Ferreira het namens die VLV hul gelukwense uitgespreek.

“Ons eer haar en haar kinders en hul lewensmaats wat nog steeds so goed na haar omsien. Die Varings se allerbeste wense vergesel ons erelid, Lydia Brink!”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article