Die groep vroue van die VLV- Parow-vallei Proteas met hul kunswerke.

Die VLV- Parow-vallei Proteas het verlede week hul maandelikse vergadering op ‘n unieke en kreatiewe wyse gehou met ‘n “Sip and Paint”-sessie wat die gewone kunsmediums uitgedaag het. In plaas van verf is koffie en tee gebruik om kunswerke te skep – ‘n vars en geurige benadering tot handvlyt wat deelnemers se kreatiwiteit behoorlik aangewakker het, sê die organisasie se voorsitter, Dorette Biccard.

Die vergadering verlede Dinsdag 5 Augustus, wat in ‘n gesellige atmosfeer aangebied is, het vroue van alle ouderdomme byeengebring vir ‘n aand van leer en lag. Onder leiding van Elfrieda Auret het lede geleer hoe om die natuurlike kleure van koffie en tee te gebruik om tekstuur en diepte aan hul kunswerke te gee.

Volgens Biccard is hierdie soort aktiwiteite deel van die VLV- Parow-vallei Proteas se missie om vroue te bemagtig met kennis en vaardighede. “Ons glo dat elke vergadering ‘n geleentheid is om iets nuuts te leer – of dit nou ‘n kreatiewe tegniek is, ‘n praktiese vaardigheid, of net die vreugde van saamwees,” sê sy.

Die groep vergader elke eerste Dinsdag van die maand en bied telkens ‘n vars tema aan. Van koekversiering tot digitale vaardighede, van tuinmaak tot selfontwikkeling – elke sessie is ‘n uitnodiging om te groei en te glo in jou eie vermoë, sê Biccard.

Belangstellendes word uitgenooi om aan te sluit by hierdie dinamiese groep vroue wat nie net hul gemeenskap dien nie, maar ook mekaar inspireer.

Stuur e-pos na vlv.parowvallei@gmail.com

Die groep vroue van die VLV- Parow-vallei Proteas met hul kunswerke.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article