Ná ’n ligtevliegtuig-ongeluk in Kraaifontein verlede week het die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid gesê ’n voorlopige verslag oor die omstandighede rondom die voorval sal binne 30 dae uitgereik word.
Die vliegtuig het verlede Dinsdagoggend omstreeks 11:20 ’n noodlanding agter die Wallacedene-waterwerke naby die Botfonteinpad uitgevoer.
Al twee vlieëniers, onderskeidelik, 31 en 25, het die ongeluk oorleef.
Paramedici van Titanium Securitas het omstreeks 11:14 ’n noodoproep gekry van ’n ooggetuie wat die vliegtuig sien daal het. “Toe ons op die toneel kom, het die vlieëniers langs die vliegtuig gelê. Hulle het self uitgeklim. Een het ernstige kopbeserings opgedoen en is met ’n helikopter na ’n nabygeleë hospitaal vervoer. Die ander een het ligte kopbeserings opgedoen en is per ambulans vervoer,” sê ’n woordvoerder, Kobus Kotze.
Sisa Majola van Burgerlugvaart het bevestig dat die Piper Cherokee PA28A-vliegtuig van Kaapstad Internasionale Lughawe opgestyg het.
Hy sê die vliegtuig het aansienlike skade opgedoen.
“Die ongevalle- en voorval-ondersoeke-afdeling se ondersoekers het die toneel gefynkam om meer inligting in te samel wat sal help om die oorsaak van die ongeluk te bepaal,” sê Majola.





