Die plekkie van ’n vierjarige kind by die Tehillah Future Kidz-crèche is leeg nadat sy en haar oppasser onderweg skool toe deur ’n vermoedelik roekelose bestuurder raakgery is.
Amy Bell en haar ouers se buurvrou is verlede week by ’n voetoorgang in Francie van Zijl-weg deur ’n e-taxi-bestuurder getref. Sy het kort ná die voorval aan haar wonde beswyk, terwyl Leenie Hansen met ’n kopbesering in die hospitaal opgeneem is.
Volgens Magda Kleyn, uitvoerende hoof van die Tehillah-sentrum, waar die crèche is, sê dit is ’n hartseerdag vir almal wat al ’n pad met die kind gestap het. “Haar plekkie is leeg en haar stem is stil. Sy was ’n saggeaarde meisie en sal baie gemis word,” sê Kleyn.
Volgens Kleyn was Hansen en Amy, asook ander kinders, besig om die pad by die voetoorgang oor te steek.
“’n Ander motor het stilgehou, maar dié spesifieke e-taxi het nie spoed verminder nie en het hulle met ’n helse slag getref. Sy het deur die lug getrek,” sê Kleyn.
Franchesca Walker, plaaslike raadslid, sê sy het besoek by die crèche afgelê. “Ek is ’n ouma van vier kleinkinders en daar is nog een op pad. Ek kan nie dink wat ek gaan doen as so iets met een van my kleinkinders moet gebeur nie. My hart bloei vir Amy se ma en haar skoolgemeenskap,” sê Walker.
Voetoorgang ’n probleem
Volgens Kleyn is die voetoorgang waar die ongeluk gebeur het, al jare ’n probleem.
“Ek is al 29 jaar hier en dis elke jaar dieselfde probleem. Baie mense en selfs skoolkinders is al hier doodgery. Die gebied is ook bekend vir smash-and-grab-misdade en dus is motoriste skrikkerig om stil te hou, maar ’n mens moet tog in ag neem dat baie kinders oor die pad beweeg,” sê Kleyn.
Die drama op die dag het nie by die ongeluk geëindig nie. Volgens Kleyn het gemeenskapslede, wat bendelede insluit, die bestuurder en die passasier gejaag, waarna hulle na die crèche gehardloop het. “Dit was chaos, want die gemeenskap het ons daarvan beskuldig dat ons die bestuurder beskerm het. Dit was natuurlik nie waar nie. Ek het die arme passasier ook jammer gekry. Hy moes hardloop omdat die gemeenskap nie kon onderskei wie was die bestuurder en wie die passasier nie. Van die bendelede het gedreig om die plek af te brand en daarop te skiet,” sê Kleyn.
Die bestuurder is in hegtenis geneem en van strafbare manslag aangekla.





