Die nasionale vervolgingsgesag wou nie by navraag bevestig of die verdagte in die moord op die 11-jarige Monneashia Prins skuld op die moord beken het nie.

Prins se lyk is verlede week in ’n kanaal in Ou Faure-weg gevind nadat sy die vorige week vermis geraak het. Sy het met haar suster en ander kinders gespeel toe sy vermis geraak het. Sy is vermoedelik ook verkrag, waarna haar liggaam onder modder en riete versteek is.

Haar ouers het glo aanvanklik gedink sy slaap by haar grootouers oor en het haar nie dadelik as vermis aangemeld nie.

’n Negentienjarige is weens haar moord in hegtenis geneem en daar is gerugte dat hy erken het hy het haar vermoor en verkrag, en dat hy bereid is om met sy vonnis te begin. Verskeie koerante het ook berig oor die skulderkenning.

Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die vervolgingsgesag, sê hy kan nie bevestig of die verdagte skuld erken het nie.

“Indien hy wel skuld erken het, sou ek dit in elk geval nie kon bevestig nie, want dit kan deel word van die bewyse wanneer die verhoor voortgaan,” sê Ntabazalila

Past. Herbert Kemp, voorsitter van die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum, sê hulle is geskok oor die moord op Prins. “Ons as gemeenskap moet ons kinders beskerm, maar vermoor hulle voor die voet. As ons nie die weerlose kinders kan beskerm nie, wie kan ons beskerm? En vir wie kan ons vertrou, want dit blyk die moordenaar kom uit die gemeenskap,” sê Kemp.

Sondag het motor- en motorfietsklubs ’n verbyry-gedenkdiens vir Prins gehou.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article