Ná 47 jaar in die verpleegdiens roep Cecilia Kobus (65) uiteindelik dié beroep vaarwel.
Kobus, ’n inwoner van Kraaifontein, het vir meeste van haar jare in die beroep by die Tygerberg-hospitaal gewerk – altesame 39 jaar.
Boonop het sy ook sedert 1975 vir ’n periode van agt jaar in die private sektor gewerk. Daar het sy diens verrig by die Louis Leipoldt-hospitaal.
Dié ma van Kraaifontein het aan TygerBurger gesê sy beplan om vir eers ’n bietjie te rus, vakansie te hou en te toer.
“Ek sal in die nuwe jaar seker weer ‘moonlight’. Ek is nog nie heeltemal klaar met verpleeg nie. Die vlees en gees is nog altyd gewillig,” skerts sy.
Kobus is ’n enkelouer en het ook ’n kleinkind.
Verpleging was vir haar meer as ’n beroep, meen sy. As sy ná ’n dag se harde werk uitstap, het sy goed gevoel, aangesien dit haar passie is om ander te help.
Daar was laagtepunte, soos met enige ander beroep, meen sy, maar die hoogtepunte het dit oorskadu. Die hoogtepunte vir haar was om haar medemens te help, sê sy.





