Elke mens verdien ordentlike primêre gesondheidsorg.
Só sê Cleopatra Ngoie van Sunbird Park, die eienaar van Nurseit-klinieke, ’n reeks bekostigbare klinieke in die noordelike voorstede.
Ngoie het in Kleinvlei in Eersterivier grootgeword, waar sy ook haar skoolloopbaan voltooi het. Haar grootouers was informele handelaars, dus het sy grootgeword deur allerhande goed te verkoop.
“Ek is die oudste van vyf kinders van my ma, ’n masjienwerker, en pa, ’n konstruksiewerker. Sewe jaar gelede het my passie vir verpleging daartoe gelei dat ek besluit het om dit in ’n onderneming te omskep. Toegang tot bekostigbare gesondheidsorg is ’n probleem wat nie alleen deur die openbare sektor opgelos kan word nie. Ons het ’n tekort aan bekostigbare gesondheidsorg, sonder mediese versekering. Daar is ook ’n tekort aan mediese dokters en verpleegsters en lang wagtye bemoeilik ook toegang,” sê Ngoie.
Aangesien Ngoie dié probleme opgemerk het, het sy besluit om aan die werk te spring. Haar eerste kliniek het sy in Wesbank oopgemaak in ’n vraghouer wat aan haar geskenk is. Die huur vir die erf was R600 per maand. Sy bedryf tans drie klinieke waar mense teen so min as R280 gesondheidsorg kan ontvang.
Ngoie is nie sommer so ’n verpleegster nie en hiervan spreek haar lys kwalifikasies en toekennings. Sy het haar vierjaar-verplegingsdiploma aan die Western Cape College of Nursing verwerf, waarna sy ’n meestersgraad in verpleging gevolg het. Sy het ook ’n B-tech-graad in beroepsgesondheid aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie verwerf.
Haar sak vol toekennings sluit in ’n toekenning vir uitnemendheid in kliniese praktiese vaardighede (2007), beste mondelinge navorsingsvoorlegging by die Universiteit Stellenbosch se 50ste Verplegingsnavorsingsdag (2013), die Dr. Pat Gorville-toekenning vir uitnemendheid in verpleging (2014), Nedbank se Business Ignite-wenner in 2023, Access Bank Womenpreneur-toekenning (2023) en verlede jaar die Standard Bank EmpowHer-toekenning.
Vir haar gaan die onderneming daaroor om ’n verskil in agtergeblewe gemeenskappe te maak.
“Ek wil verder uitbrei en hoop dat Nurseit kan groei tot dit so bekend is soos van die ander handelsname. Uiteindelik droom ek daarvan dat dit landwyd bekend gaan wees. Vir my is gemeenskapsbetrokkendheid belangrik en is dit die hoeksteen van verpleeg-entrepreneurskap. Dus is ons dienste relevant, koste-effektief, toeganklik en broodnodig,” sê Ngoie.
Sy het ook ’n boek geskryf waarmee sy verpleegsters wil inspireer en waarin sy lesse deel wat sy oor tyd geleer het.
“Ek wil verpleegsters leer hoe om hul eie ondernemings te begin en dit effektief te bestuur. Dit het ook ten doel om die publiek in te lig oor die rol van verpleegsters in die lewering van broodnodige primêre gesondheidsdienste.
“Ek het ook al 200 verpleegsters opgelei oor hoe om hul eie praktyke en ondernemings oop te maak,” sê sy.





